
Transito
Hoe dit ook al sy en wat die uiteinde mag wees, dié is ’n reeks wat ’n mens week ná week wil kyk en wat ’n lekker leë tydgleuf op ’n Saterdagaand uitstekend vul..
- BeeldKits-kykkassie
DRIE VOORSMAAK-VIDEO'S:
- VIDEO: Dokter, asseblief:
Priester (Gerrard Rudolf) wil weet waarom Patrys in die sekuriteitsman se hospitaalkamer was. En hy gaan nie nee vir 'n antwoord vat nie. Gedink hy skiet en wurg net? Kyk wat hy met hospitaal-apparaat kan doen.
- VIDEO: Kruger en Kuns:
Perlemoensmokkelaar Charlotte Kruger gaan kuier by Patrys se Handgeverfde Linne - en kla vinnig oor die pryse. Dan maak Thaba (Patrys se sussie) die groot fout om Kruger se kunssinnigheid in twyfel te trek. Hier is wat gebeur ...
- VIDEO: Die poppe begin dans:
Die rooftog is afgehandel, die rowers dood, maar die trommels weg. Só begin episode 3 - 'n opsomming van die intrige. Kyk na die voorskou ...
Met die bekendstelling:
Transito, spesiaal vir kykNET geskryf deur Deon Meyer, bevat al die elemente wat ’n mens in ’n spanningsreeks wil sien.
Die twee skurke, Priester (Gerard Rudolf) en Charlotte Kruger (Michelle Burgers), is die soort wat ’n mens graag aan ’n galgtou sou wou sien swaai. Die kil wreedheid waarmee Priester sy slagoffers doodmaak, laat ’n rilling by die ruggraat afloop.
Maar dié twee is nie die reeks se enigste skelms nie. Trouens, ’n mens begin wonder of daar iemand is wat nié besig is om iewers te knoei nie.
Daar is die mooi Patrys le Roux (Milan Murray), eintlik ’n kunstenaar, maar in haar aftyd ’n klouterdief (háár wil ons nie in die tjoekie sien nie – en ook nie dood nie, so al met Priester op haar spoor); Tommy Falk (Jody Abrahams), wat transito-vragte vervoer.
En dan durf ons nie vergeet van die bitter voormalige soldaat, Francois Brink (Stefan Ludik), wat pleks van ’n pakket by die weermag te kry, laat gaan is met ’n skamele pensioengeldjie en geswig het voor die versoeking om die vrag van die mislukte transito-roof te steel.
En die geheimsinnige “bron” by wie Charlotte al haar inligting oor die polisie se doen en late kry. Én die ou wat vir Patrys afpers – nugter weet waaroor. Aan die ander kant is daar speurder-superintendent Joseph Moroka (Cedwyn Joel) en sy regterhand (wat eintlik dikwels meer na ’n onbeholpe linkerhand lyk), Halgryn (André Weideman).
Dit kom dus neer op agt skurke (dis nou buiten die transito-rowers wat reeds doodgeskiet is) teen twee goeie ouens. (Gelukkig vir hulle werk die goeie ouens darem saam met ’n span ander mense, ongelukkig vir die goeie ouens is daar dalk ’n slang wat tussen hulle rondseil.)
En dan is daar die belofte van romanse. Sal dit nou nie ’n ding wees as die moordenaar en die smokkelaar op mekaar verlief raak nie? Hoe sou dit eindig? En Patrysie en Francois. Eintlik meen mens hulle is goeie mense wat net in verkeerde omstandighede beland het.
Die ideaal sou wees dat hulle mekaar vind en saam met die buit verdwyn. Sónder groen vlekke ...
Hoe dit ook al sy en wat die uiteinde mag wees, dié is ’n reeks wat ’n mens week ná week wil kyk en wat ’n lekker leë tydgleuf op ’n Saterdagaand uitstekend vul.
- Beeld
‘Vol karakters’ in dié aksiereeks
Die TV-reeks Transito spring in April op kykNET weg. Agter die stuur is die bekende regisseur Koos Roets, om nie te praat van die rits van Suid-Afrika se bekendste akteurs nie.
Die beginpunt van die reeks, in ’n neutedop, ontvou soos volg: Francois Brink (Stefan Ludik), ’n oud-weermagman, kom af op ’n transito-rooftog wat skeefgeloop het. Hy laat spaander met die koffers geld, min wetende dat ’n hele paar ander belanghebbendes sy spoor begin volg.
Dit sluit in Patrys le Roux (Milan Murray), ’n vasberade jong vrou wie se sleutel tot finansiële vryheid in daardie trommels opgesluit lê, en die perlemoenbaas Charlotte Kruger (Michelle Burgers), wat niks sal ontsien nie om haar deel van die winste terug te kry. In haar diens is die kille Priester (Gerard Rudolf), ’n sluipmoordenaar en taalpuris.
Dit is, vertel Ludik, ’n lekker aksiereeks met ’n goeie dosis drama. “En elke karakter het sy eie storie.”
Hy is ingenome met die interessante rol waarmee hy te werk het.
Getrou aan die skrywer Deon Meyer se styl (sy helde is mos nooit net góéd nie; daar is altyd ’n duistere geraamte of twee in die kas) is Francois Brink ook nie jou tipiese held nie.
Takseer ’n mens hom op sy voorkoms – ’n skoongesig, lojale weermagman wat sewe jaar van sy lewe vir sy land gegee het – sou jy nie weet dat hy die potensiaal het om die gaping te sien, die geld te gryp en die pad te vat nie. Maar, soos Ludik die kern van die verhaal opsom: “Money makes people funny.”
Eweneens kan die skurk in die verhaal, Charlotte Kruger, nie net bloot as sleg gesien word nie, beklemtoon Burgers wat dié rol vertolk.
“Kruger is ’n beskadigde mens, nie noodwendig sleg nie. Sy soek maar net haar deel.”
Ook Burgers is sigbaar ingenome met haar rol. Volgens haar is die karakters Kruger en Priester van die beste wat sy al teëgekom het.
“Dit help as jy ’n bietjie ouer is,” merk sy glimlaggend op. “Dan kry jy van die beter karakters. As ek jonger was, sou ek nie die rol van Kruger so goed kon doen nie. Jy moes al ’n bietjie geleef het om haar te kan speel.”
Van Kruger lig sy ’n paar persoonlikheidseienskappe uit: “Om mee te begin, meng sy haar taal vreeslik. En dan is daar haar fassinering met pyn. Dit is ’n fyn lyn wat ’n mens loop. Kruger is amper komies in die manier waarop sy reageer op dinge.”
’n Interessante gevolg hiervan is haar unieke interaksie met die karakter Priester.
“Sy verstaan hom nie en sy is gefassineer deur hom,” verduidelik Burgers. “Sy het ’n taamlike kras kant en hy is ’n taalpuris. Nie een van hulle het die vermoë om heeltemal betrokke te raak by iemand anders op ’n emosionele vlak nie, weens hul onderskeie agtergronde.”
Nes Ludik kan Burgers nie uitgepraat raak oor hoe lekker dit is om met ’n volronde karakter te werk nie.
Sy het die rol aanvaar slegs omdat die karakter so goed ontwikkel was. “Ek het toe nog nie eens die teks gesien nie,” sê sy laggend. Dat sy haarself terdeë geniet, is duidelik. Sy sien haarself nie meer as ’n heeltydse aktrise nie. (“Ek is nou ’n ma en daar is niks belangriker as my kind nie.”)
Wat dit verder vir haar lekker maak, is dat sy nie meer bang is nie. “Dit maak nie meer saak as iemand dink ek is swak nie, ek voel vry en veilig en ek geniet die mense met wie ek saamwerk.
“Ek wil net ’n bietjie speel en myself nie te ernstig opneem nie – nie dat ek ooit het nie! Toneelspel is mos maar verbeel-verbeel, dit is belangrik, maar dit is net ’n storie, dit gaan niemand se lewe red nie.
“Wat vir my belangrik is, is om te probeer om wat die skrywer van die teks wil sê, ordentlik oor te bring.”
Soos die reeds genoemde karakters meen Murray haar karakter, Patrys, is ook iemand met meer as een faset aan haar persoonlikheid.
Bedags is sy miskien ’n verstrooide en finansieel onbeholpe kunstenaar, maar wanneer sy haar winkeldeur toetrek, word sy ’n flinke klouterdief. “Dít verg natuurlik ’n bietjie meer dissipline van haar,” skerts Murray. En ’n mens moet die agtergrond in ag neem voordat jy ’n oordeel vel, want Patrys steel nie omdat sy wil nie; sy steel omdat sy gedwing word.
“As gevolg hiervan het sy haarself afgesluit van ander mense, en sy raak nie regtig emosioneel betrokke by ander nie – met die uitsondering van haar suster Thaba.”
Murray geniet dit dat die verhaal aksiegedrewe is, maar veral dat die karakters “ ’n emosionele katarsis” ervaar. Die uitdaging hiervan, meen sy, is om dít wat binne gebeur, aan die buitekant te vertoon.
Dit help dat die karakters so goed ontwikkeld na die bladsye van die draaiboek kom.
“Dit is baie lekker vir ’n akteur as die karakter en sy aksies goed gemotiveerd is.”
Burgers, wat na die gesprek sit en luister, val in met: “En dit is fantasties om in ’n reeks te speel waarin die vrouekarakters van mekaar verskil. In ander tekste sal jy dit kry dat die manskarakters verskil, maar dat die vroue almal dieselfde is.
“Hier verskil die vroue wêrelde van mekaar in die manier van praat, hul agtergronde en hoe hulle reageer.”
Murray gaan voort. Nóg iets wat Transito vir haar besonders maak, is dat daar gewerk word met ’n performance coach, ’n nuwe ervaring vir haar.
“Dit is nie iemand wat sorg dat jy jou dialoog ken en reg uitspreek nie, dit is iemand wat seker maak jy verstaan die motivering agter die gebeure. “So, die rigting wat ons as akteurs ontvang, kom nie net van een persoon (die regisseur) nie, maar van twee. Dit maak die hele proses net soveel meer vaartbelyn.”
Dié invloed is waarneembaar in veral die interaksie van die onderskeie akteurs. Teen die spoed waarteen TV-reekse in Suid-Afrika geskiet word, is daar nie altyd tyd dat die akteurs mekaar kan vind en mekaar se manier van speel kan snap nie.
Maar met Transito het die spel-afrigter gehelp verklaar waar die verskillende karakters vandaan kom en hoekom hulle op sekere maniere optree.
Dat die TV-bedryf plaaslik effens anders funksioneer as oorsee, is gewis. Die begrotings is natuurlik veel kleiner, wat veroorsaak dat daar nie dae lank geskiet kan word aan een toneel nie.
“Die vervaardigers van oorsese reekse is tevrede daarmee as hulle een tot drie minute bruikbare materiaal op ’n dag kan skiet,” vertel Burgers. Op hierdie stel word 11 tot 18 minute per dag voltooi.
Dit is ’n bittersoet oorwinning, bieg Murray.
Aan die een kant bewys dit dat Suid-Afrikaners die durf en kreatiwiteit het om sulke projekte aan te pak, dat die betrokke akteurs die nodige passie het en dit doen vir die liefde van die saak.
“Aan die ander kant is dit juis omdat ons nie vakbonde in die bedryf het wat ons werktyd reguleer nie, dat ons so voort stoomroller.”
Sy dink ’n oomblik na. “Maar ons doen dit want ons is almal so entoesiasties daaroor, ons wil só graag ’n goeie plaaslike produk maak.
“Mense daarbuite is geweldig krities teenoor plaaslike reekse, maar hulle besef nie dit is nie dat ons nie kan nie, dit is dat daar nie genoeg geld is nie. Vir ons is dit ’n hartsding, ons sal nooit ophou nie.”
Burgers beaam hierdie gevoel. “Dít is wat Suid-Afrikaners in hierdie bedryf so ongelooflik maak: ons kán dit doen en ons wíl dit doen.”
- Die Burger