
Orion: Die TV-reeks
Orion, ’n dramareeks wat verlede jaar op kykNET uitgesaai is en op die gelyknamige trefferroman van Deon Meyer gegrond is, het kykers behoorlik laat naels kou en regop sit.
- RapportKyk net ...
Die eerste video-uittreksel:
Met Neil Sandilands as Zatopek van Heerden, Albert Maritz as kapt. Willie Nagel en A.J. van der Merwe as Nougat O'Grady. Sien hoe Zatopek vir Nagel die eerste keer ontmoet.
Met die bekendstelling:
“Nie vir almal nie.”
Dít is hoe kykNET sy nuwe dramareeks Orion, wat môre om 20:00 op dié kanaal begin, adverteer.
“Orion verteenwoordig ’n nuwe tydvak vir Afrikaanse drama,” het mnr. Theo Erasmus, kykNET se kanaalhoof, dié week op die mediabekendstelling van die reeks gesê.
Orion, gegrond op die gelyknamige roman van Deon Meyer, bevat heelwat geweld, kru taal en taamlik eksplisiete sekstonele. Dis veral Neil Sandilands as Zatopek van Heerden en Yvonne van den Bergh as Nonnie Nagel wat die skerm laat toestoom met hul liefdestonele.
Erasmus het gesê dit is inderdaad ’n waagstuk en dat die kanaal met die vervaardiging nuwe waters betree.
“Oorsese programme het lank reeds geweld, seks en ’n gevloek, maar dit was nog altyd of ons Afrikaanse dramas hiervan probeer weghou. Orion breek nou daardie patroon en stel ’n nuwe standaard in realisme.
“Ons moet ook deur daardie Calvinistiese muur breek wat sê ’n mens mag nie in Afrikaans vloek en seks hê nie,” het hy gesê.
Twee van die tien episodes sal ’n ouderdomsperk van 18 hê, twee ’n ouderdomsperk van 16 en die res sal net ouerbegeleiding vereis, het Erasmus gesê. “Dit is net die episodes Dinsdagaande wat ongesensor vertoon sal word.
“Alle herhalings van die episode deur die loop van die week sal gesensor wees; dus hoef mense nie bekommerd te wees dat hul kinders bedags iets sal sien wat hulle nie veronderstel is om te sien nie,” het Erasmus gesê.
- Beeld
Neil Sandilands as Zatopek:
NEIL SANDILANDS, akteur, is in sy noppies met Deon Meyer se “goedontwikkelde karakter” Zatopek van Heerden wat hy in die televisiereeks Orion oor Meyer se gelyknamige boek vertolk.
Meyer is eweneens in sy skik met die moeite wat Sandilands gedoen het om onder die vel van die polisieman Van Heerden in te kom.
Meyer en Sandilands het gister komplimente uitgeruil in gister se boekgesprek op die Volksblad-kunstefees met Meyer en Michael Connelly, bekroonde Amerikaanse misdaadskrywer. Orion, kykNET se nuwe misdaaddrama, het hier ter sprake gekom.
Sandilands het gesê hoewel ’n draaiboek deur verskeie skrywers saamgestel is, is die boek deurlopend geraadpleeg, veral wanneer oor Zatopek van Heerden getwyfel is.
“Ek vertrou eerder die romanskrywer as draaiboekskrywers. Gelukkig het Gerrit Schoonhoven (regisseur) toegelaat dat die gees van die boek behoue bly.”
Meyer het gesê Sandilands verstaan dié karakter so goed omdat hy hom so goed ontgin het. Hulle het twee nagte oor Sandilands se vrae oor Zatopek van Heerden gepraat.
- Volksblad
Erica hoop nie, sy dóén
DIE regsberoep is nie vir Erica Wessels vreemd nie. Sy het reeds só goed gevaar as advokaat in die toneelstuk Jesus Hopped the A-Train dat sy ’n Fleur du Cap-eerbewys vir beste ondersteunende aktrise gekry het.
Aan die ander kant van die spektrum het sy as reeksmoordenaar in die TV-reeks Interrogation Room op ’n ander manier met die reg kennis gemaak. Nou is sy terug aan die regte kant van die reg, as Hoop Beneke, die prokureur wat ’n verskil wil maak in die dramareeks Orion gegrond op Deon Meyer se boek met dieselfde titel.
“Hoop se naam is nie verniet Hoop nie,” sê Wessels. “Sy bring regtig lig in die reeks. Sy sien die goeie en die potensiaal in Zet (Zatopek van Heerden, vertolk deur Neil Sandilands). Sy hoop die beste gebeur met hom en eindelik raak sy ook die hoop waaraan hy klou.”
Wessels sê die teks het haar van die begin geboei.
“Omdat die inhoud so goed is, kon ons akteurs net konsentreer op wat ons moes doen. Dit was nie nodig om magic te maak nie. Dit was klaar daar.”
Sy kry dikwels rolle van sterk, meestal manipulerende en agterbakse vroue (“dalk oor my sterk gelaatstrekke ...”).
Dis vir haar lekker om ’n sterk vrou met ’n hart van goud te speel, maar vorentoe wil sy darem graag ook ’n swak, weerlose vrou vertolk. Wessels is bekender op die verhoog as op televisie en in rolprente. Op vanjaar se KKNK was sy in die rolverdeling van H armse waarin Neels van Jaarsveld ook gespeel het.
Op Aardklop later vanjaar speel sy weer saam met Van Jaarsveld in Sielsiek.
Terwyl sy in 2002 in New York was, het sy meesterklasse aan die Black Nexus Studio onder Susan Batson bygewoon. Batson is ook die instruktrise vir Juliette Binoche en Nicole Kidman. Een van die studente saam met Erica in die klas was Naomi Campbell.
Ná ’n paar opwindende jare oorsee het sy teruggekom om in Suid-Afrika te werk.
“Ek beskou myself as baie gelukkig om ’n werk te hê. Ek wil aktrise wees om stories te kan vertel, om mense aan te raak en te inspireer.”
In die werklike lewe ontroer die lot van straatkinders, mishandelde mense en dié uit gebroke huise haar. Sy sou graag iets wou doen om hulle te help. “Toneelspeel is ’n lieflike werk, maar dis selfgesentreerd. Ek glo akteurs moet ook wegkyk van hulself en ander raaksien.
“Ek het op ’n punt gekom waar ek nie meer kan stilbly nie. As ek dalk bekend raak, wil ek ’n groot hulpprogram tot stand bring waarby bekendes betrokke kan raak om ander te help.”
Van die ander akteurs in die reeks is Yvonne van den Bergh, Albert Maritz, Aletta Bezuidenhout, Ivan Abrahams en AJ van der Merwe.