Jakhalsdans - 'n Rolprent

Jakhalsdans is 'n splinternuwe Afrikaanse fliek, 'n romantiese komedie oor misverstande, musiek en die helende krag van liefde. Dit behoort vroeg aanstaande jaar in teaters te wys.

Die Voorprent       Die rolverdeling       Onderhoud met Deon       Die amptelike fliek-webwerf

Hier's die voorprent!

Video

Eksklusief en heel eerste:

As jy solank wil loer hoe Jakhalsdans lyk, klik hier (of op die video-ikoon) om die amptelike voorprent te sien.

 

Rolverdeling en regie:

Jakhalsdans
Landman: Theuns Jordaan
Le Fleur: Neil Sandilands
Mara Malan: Elizma Theron
Vanessa: Christina Storm
Mia Malan: Janke Bruwer
 
Regisseur: Darryl James Roodt
Vervaardigers: Diony Kempen en Anton Ernst
Draaiboek: Deon Meyer

 

Waar kom die storie vandaan?

Pas nadat verfilming van ‘Jakhalsdans’ aangekondig is, het Deon gesels oor die draaiboek. Hier is die volledige onderhoud:

WM: Jy sê dit is 'n 'oorspronklike' draaiboek. Wat beteken dit?

DM: Dit is dus nie op enige van my boeke gebaseer nie.

Theuns Jordaan

WM: ‘n Romantiese komedie? Dit is nie jou gewone genre nie.

DM: Dis waar, maar soms moet ‘n mens ‘n storie skryf omdat dit so onweerstaanbaar is.

WM: Waar kom die storie vandaan?

DM: Ons het in Julie 2005 ‘n wonderlike konsert by die Volksbladfees in Bloemfontein bygewoon, waar Valiant Swart, Koos Kombuis, David Kramer, Gert Vlok Nel en Theuns Jordaan saam opgetree het.

Ek vermoed dit was juis die aweregse kombinasie van kunstenaars wat dit so ‘n heerlike ervaring gemaak het, en veral Theuns en David se samespel en -sang het my aan die dink gesit. Hulle musiek en optreestyle is baie kontrasterend, maar saam was hulle fenomenaal.

Ek en Anita het die volgende dag met die motor teruggery Kaap toe, en ek het bly wonder hoe ‘n mens die lekkerte van die konsert in storievorm kon omskep. Oor die raps meer as ‘n duisend kilometer het die verhaal ontwikkel, en ek het tóé al besef dit sal nie ‘n kortverhaal of roman kan wees nie, maar ‘n fliekdraaiboek.

Daar is ook enkele elemente van een van my kortverhale, Bottervis in die Jêm, in die gegewe opgeneem.

WM: Dit is vier jaar gelede. Waarom het dit so lank gevat?

Elizma Theron

DM: Goeie vraag. Dit was die sameloop van omstandighede. Ek het destyds nog baie handelsmerk-konsultasie gedoen, was besig om ‘n roman te skryf, en niemand het Afrikaanse flieks gemaak nie. Boonop het ek nie mense in die musiekbedryf geken nie – musiek en musiekmense speel ‘n integrale rol in die draaiboek.

Dinge het verander nadat ek vir Theuns Jordaan in 2008 leer ken het terwyl ek navorsing gedoen het vir ’13 Uur’. Ek het so terloops vir Theuns gevra of hy al ooit daaraan gedink het om ‘n fliek te maak, en toe hy positief reageer, het ek hom van my idee vertel. Dit was Theuns se geesdrif vir die storie wat veroorsaak het dat ek toe gaan sit het om die draaiboek te skryf.

WM: Waar kom die titel vandaan?

DM: Jakhalsdans is 'n regte Karooplaas net buite Loxton. Ek het die voorreg gehad om onder meer 'n motorfietsbyeenkoms daar te hou en die mense, Nicola en Linda van der Westhuizen, te leer ken. Een van die hoogtepunte in die fliek speel daar af. En, terloops, die plaas se naam word regtig só gespel.

WM: Was dit maklik om die fliek gemaak te kry?

DM: Inteendeel. Ons het ‘n jaar lank probeer om finansiering te kry, maar veral Afrikaanse finansieringsbronne het geen geloof in of steun vir die idee van ‘n Afrikaanse fliek gehad nie.

Neil Sandilands

Vervaardiger Diony Kempen en regisseur Darryl James Roodt het vroeg in 2009 die rolprentregte van my roman ‘Proteus’ bekom, en ek het eendag terloops aan Diony genoem hoe ons sukkel om geld te kry vir ‘n Afrikaanse fliek. Hy het gevra of ek die draaiboek vir hulle kan stuur, en het kort daarna aangebied om te help.

Diony, Darryl en mede-vervaardiger Anton Ernst het berge versit om die fliek gemaak te kry, en ek is hulle groot dank verskuldig. Ek moet ook byvoeg dat ek 'n bewonderaar is van Darryl se werk. Dit is 'n voorreg om saam met hom te kan werk.

WM: Lemmer, die protagonis van ‘Onsigbaar’, bly ook op Loxton. Wat sal Lemmer van dié fliek sê?

Hy sal tien teen een vir sy vriendin Emma in die Kaap gaan kuier tydens verfilming, want hy hou van stilte en rustigheid op Loxton. Maar Lemmer kyk ook geesdriftig na 7de Laan, so ek vermoed hy sal van die fliek hou ...

Neil Sandilands

WM: Kan ons in die toekoms nog oorspronklike draaiboeke verwag?

DM: Ek het nog ‘n paar idees. Maar kom ons kyk maar eers hoe Jakhalsdans by die loket vaar ...

 

Media-dekking:

Die Burger, 10 Oktober 2009:

Die sangers Theuns Jordaan en Elizma Theron verruil van volgende week vir sowat drie weke hul rolle as sangers tydelik vir dié van rolprentsterre.

Hulle vertolk die hoofrolle in die nuwe Afrikaanse romantiese komedie Jakkalsdans, wat van volgende week in die Karoodorp Loxton verfilm gaan word.

Deon Meyer, bekende skrywer van verskeie misdaadverhale, het die draaiboek geskryf. Hy het by navraag gesê daar gaan geen speurvernuf in hierdie rolprent ingespan word nie.

“Dis nie op enige van my boeke gegrond nie. Ek het die draaiboek spesiaal geskryf nadat ek reeds sowat vier jaar lank met die storie in my kop rondgeloop het. Dis ’n lekker storie wat mense sal geniet.”

Die regisseur is die bekende Darrel James Roodt, wat reeds verskeie rolprentsuksesse op sy kerfstok het.

Volgens die vervaardiger, Anton Ernst, is hy baie opgewonde oor hierdie rolprent. Ook hy is geen vreemdeling wat suksesrolprente betref nie. Hy het reeds sewe vollengterolprente vervaardig en was al by sowat 40 plaaslike en internasionele rolprente betrokke. “Ek begin binnekort werk aan ’n projek van meer as R10 miljoen in Kaapstad, en daarna ook aan een met ’n groot begroting in Los Angeles.

“Jakkalsdans lê my tans die naaste aan die hart. Dis ’n lekker plaaslike storie en boonop een van die eerste Afrikaanse romantiese rolprente in baie jare,” het hy gesê.

Ernst het bevestig dat die twee sangsterre die hofrolle vertolk. Daar is ook ’n vyfjarige meisie uit die Loxton-omgewing wat ’n rol in die rolprent losgeslaan het, maar hy wou nie haar naam bekend maak nie.

Die rolprent behoort einde April uitgereik te word. Volgens Ernst onderhandel hulle tans met biede Ster-Kinekor en Nu Metro oor die vertoon daarvan.