Bloemfonteinse kuier

Die Volksblad, 2007

Deon het sy loopbaan by dié koerant begin as verslaggewer, juis daarom dat hy so geëerd was om 'n onderhoud met Die Volksblad se boekeredakteur Danila Liebenberg te doen. Klik hier vir Die Volksblad se webwerf

Die sigbare kant van Deon Meyer

DIT reën aanhoudend en deurdringend in Bloemfontein. Dis ná agt in die aand en jy loop jou vas teen ’n donkerdeurdrenkte nag. Daar is nie veel maan of sterre wat lig maak nie. En van straatlig is daar nog minder toe jy voor die gastehuis parkeer. Dis of daar amper-amper ’n skets uit ’n openingstoneel in ’n speurverhaal dit wil verbeel.

Met die verskil dat jy op pad is om die meester van speur- en aksieverhale in die Afrikaanse letterkunde en hoogs gereken oorsee te ontmoet. ’n Skrywer wat jou natuurlik meer uitvra oor jouself vóór jy nog jou verslaggewersboekie kon oopvou en jou sit kon kry in die klein sitkamerkroeg van ’n gesiene huishotel. Hoe dan anders, dink jy ná die tyd, as mens met ’n speurverhaalskrywer te doen kry . . . wat enige komplot moet kan ontrafel en die ontstoker keer op keer is van hoë­spoed en gelaaide aksie.

Deon, die storie lui dat jy op 14 jaar jou eerste boek geskryf het en jou twee broers, waarvan jy die middelste is, omgekoop het om dit te lees. Klaarblyklik was hulle nie hoogs beïndruk nie. Toe is daar skielik stilte aan jou stories. Wat het jou van toe tot in jou dertigerjare laat stilbly aan stories skryf en uiteindelik die publiseer daarvan?

Vandat ek 9 jaar oud was, het ek eenvoudig ’n drang gehad om te stories te maak en te skryf. Daar is geen ander woord daarvoor nie. Terwyl ek boeke gelees het op daardie ouderdom, het ek net die absolute drang gehad om dit wat in my was te deel sodat ander saam met my die vreugde kon deel. Dis soos mense wat graag iets mooi uit hout wil maak en nie anders kan as om houtwerk te doen nie. Maar ek het krities na my stories gekyk in die tyd waarvan jy praat. In hierdie tyd wat verloop het, kon ek aan insig groei. Ook het ek gevoel dis nog nodig om aan die diepte van my stories te werk. Ook het ek gevoel dat die karakterisering nie omvattend genoeg was nie en ek my karakters eers beter moes ontwikkel. Ek het tyd gehad om as mens te groei, maar skryf, die wou ek nog altyd. Hierdie storiestilte is ná jou dertigerjare verbreek en sedertdien het Bottervisse in die jêm, Wie met vuur speel, Feniks, Orion, Proteus, Infanta en Onsigbaar verskyn.

Méér nog as bloot verskyn, want hierdie boeke het vele pryse hier te lande en oorsee verower. Vertel meer daarvan en ook van jou skryfplanne van volgende jaar af.

Wel, van Januarie 2008 af, is ek voltyds skrywer. En gaan daar hopelik nog ’n paar titels verskyn. Jy weet, daar is nog van my vier kinders wat skoolgeld nodig het om op die skoolbanke aan te bly! Kom dit by pryse is die belangrikste seker die ATKV-prosaprys vir Orion in 2000, Feniks se Franse titel Jusqu‘au Dernier wat in 2003 die Le Grand Prix de Littérature Policiére-prys gekry het. In dieselfde jaar het Proteus die ATKV-prosaprys verower. Orion het in 2004 onder die Franse titel Les Soldats de l’aube die L’prix Mystère de la critique-prys ontvang. Ook het Infanta in 2004 die ATKV-prosaprys gekry en Proteus die Deutsche Krimi Preis in 2006. Vanjaar het die ATKV-prys vir die beste draaiboek vir die Orion-televisiereeks my te beurt geval.

Gaan jy in volgende boeke steeds in die misdaadgenre bly?

Ek sal my met die breë spanningsverhaallyn besig hou. Dit wat jy as skrywer skryf en jou naam word veral in die buiteland ’n soort van ’n handelsmerk. Lesers dra ook later die verwagting dat ’n mens so sal skryf, soos hulle gewoond is aan jou. Daarom sal ek my hou by die breë misdaad- en spanningsverhaal soos wat ek tans skryf. Terwyl mens nog bou aan ’n skrywersnaam, veral oorsee, is dit nie wys om sommer te skuif uit die stroom waarin jy skryf nie.

Hoe kry jy dit reg om soveel tempo in jou stories in te bou en so ’n hoë spoed deurentyd te handhaaf; soos dit ook nou weer in Onsigbaar duidelik raak?

Ek is deurentyd van tempo bewus terwyl ek skryf. En omdat ek bewus daarvan is, sorg ek dat dit gebeur. En dan werk ek maar so na aan die klassieke storie-resep as wat kan kom. Ek begin in die storie so na as moontlik aan die interessante gebeure of die aksie. Ek maak so met elke toneel in ’n boek. Dít dryf die storie vorentoe en laat dit met tempo beweeg. Ek laat ook die verhaalgegewe so na as moontlik aan die einde van die aksie afsluit. Dis of daar heeltyd ’n fiktiewe leser saam met my lees terwyl ek skryf. En as daardie leser se aandag begin taan, dan besef ek ek moet nou plan maak.

Hoeveel navorsing doen jy oor die algemeen met die skryf van ’n boek en ook dan spesifiek in die geval van Onsigbaar?

Werklik baie, want mense is ontsaglik ingelig. Want vandag kan mens soveel sien op televisie en die inligting wat jy daarop kry is die beste van­oor die hele wêreld. As jou karakters vir ’n leser geloofwaardig wil wees, moet jy as skrywer weet waarvan jy praat. Verder help dit nie net om te lees oor dit wat jy wil skryf nie. Doen primêre navorsing. Gaan praat met die soort mense waaroor jy wil skryf, sodat jy eerstehands weet. Dis net as ek nie só inligting kan bekom nie, dat ek op sekondêre navorsing terugval. As ek byvoorbeeld die ware lewe van ’n speurder in ’n boek moet sit, sal dit nie so interessant wees nie, want groot dele van ’n speurder se lewe gaan om in howe. Fiksionalisering van waarheidsgegewe is dus absoluut noodsaaklik. Maar jy moet eers soveel moontlik aan inligting probeer bekom vóór die fiksionalisering werklik tot sy reg kom.

En mensekennis ...

Ek het net vandag weer gewonder, hoekom word mens wat mens is. En hóé word mense wat hulle is. Want mensekennis is kardinaal as dit by skryf kom. Dis dalk die heel moeilikste, maar geweldig belangrik. Ek praat gereeld met kundiges oor mense en hulle gedrag, soos prof. Dap Louw, hoof van die departement Sielkunde hier en bekende forensiese sielkundige asook met mense soos (die forensiese sielkundige) kapt. Elmarie Myburgh.

As jy stories skryf met dan ook die oog op vertaling, bly jy hier te lande dink of hoe?

Ek dink Suid-Afrikaans. Want ek glo dat as karakters in een taal deernis verwek, sal dit in ander tale oor die wêreld ook. In vertalings haal ek dan maar net die verwysings na Suid-Afrika uit wat net Suid-Afrikaners sal verstaan en vir wie dit relevant sal wees.

Wat sou jy sê was die invloed van jou jare toe jy diensplig gedoen het en jou eerste aanstelling as verslaggewer by Volksblad, op jou storieskryf?

In die weermag het ek mense van alle vlakke van die lewe ontmoet. Daar het ek met baie ander tale en kulture te doen gekry. Ek het maar geïsoleerd grootgeword. Die tydperk daar het my dus bekendgestel aan baie soorte mense.

Wat Volksblad my geleer het, was hoe om inligting te gaan soek én belangriker nog, te kry. Ek het geleer daar is altyd maniere om inligting te bekom; om mense op te spoor. Oor onderhoudstegniek het ek ook baie in daardie jare geleer. En die feit dat my joernalistieke skryfwerk deur subredakteurs en nuusredakteurs geskaaf is, het my glad nie sensitief gemaak vir kommentaar op my skryfwerk as dit by die uitgewer kom nie. Want die mening van ’n goeie uitgewer, redakteur of nuusredakteur, het ek geleer, is goudwerd. My eerste beat by Volksblad het my baie mense van die spoorweë laat ontmoet. Dit wat ek in terme van die mense beleef het, is nou in Onsigbaar ingevleg.

Saam met die M van Meyer, is daar ook nog drie ander M’s in jou lewe. Jy skryf dikwels daaroor. En jy sê ook dat jy baie lief is vir motorfietse, musiek en Mozart. Vertel iets meer hoor hierdie liefdes.

Ek dink daar is baie meer mense wat motorfiets ry én klassieke musiek luister as wat daar oor die algemeen gedink word. Dis gekultiveerde mense wat nie drink en hulle vroue slaan, soos daar dikwels van motorfietsryers geglo word nie. Dis vir my ’n voorreg om dit alles te kan geniet. Ek is seker as Mozart in die tyd van motorfietse geleef het, sou hy ook motorfiets gery het. En hy sou ’n BMW gery het – daarvoor kan ek jou ’n brief gee!

As ’n mens so veelsydig is soos jy, hoe maak jy as dit by keuses kom, soos die onlangse een dat jy van 2008 af voltyds gaan skryf?

Normaalweg vermy ek keuses as dit nie nodig is nie. Hierdie keuse van voltyds skryf, het my skryfloopbaan aan my gedikteer. As ek kon, sou ek nog die konsultasiewerk ook wou doen. Want ek glo, hoe meer betrokke mens is, hoe ryker is jy. Ek glo wel om soos jy lewe en soos omstandighede om jou verander, jou daarby aan te pas en jou passies daarvolgens te leef.

Ek onthou toe ek by Sanlam se reklameafdeling gewerk het, het iemand my gevra wat my 5-jaar en 10-jaar plan is. Ek sal nooit so kan leef nie. Want ek glo dat as ’n mens hard genoeg werk, hoef jy nie ’n 5-jaar of ’n 10-jaar plan te hê nie. Ek volg my hart. Ek is in die gelukkige posisie om te sê dat die sake wat my ontsaglike genoegdoening gee, nog tot dusver ook my loopbaan was

. Jy het vier kinders: Lida, Liam, Johan en Konstanz. Wat sou jy graag oor hulle en jou vrou wou sê?

My vrou is die enigste mens wat my skryfwerk hoofstuk vir hoofstuk lees en soos dit vorder, voortdurend met my deel. ’n Mens besef om te skryf is om deel van ’n fiktiewe wêreld te wees vir ’n paar uur ’n dag. Anita is die enigste een met wie ek beide hierdie wêrelde deel. Sy is die een wat die proses minder eensaam maak.

Lida, my oudste, maak vanjaar klaar by die filmskool. Liam weer is sportmal, met ’n besondere sosiale intelligensie. My tweede jongste, Johan, het baie skryfpotensiaal. Ek moedig hom graag aan, maar wil geen druk op hom plaas nie. Konstanz, my jongste van 12 jaar, lees weer baie graag. Sy het my nou onlangs gevra om die dagboek van Anna Frank vir haar te kry.

Wat sou jy nog bittergraag wou doen?

Natuurlik sou ek nog graag met ’n motorfiets deur Amerika en Suid-Amerika wou reis. Maar wat ek van dag tot dag probeer doen, is om elke dag voluit te probeer leef. en ek wil gehaltetyd saam met my vrou en kinders wou deurbring. En as dit my beskore is, die wêreld vir my kinders wys.

Watter woorde sal jou altyd bybly?

My pa se woorde as ons oppad was van Klerksdorp na die see. Dan het hy altyd gesê die lewe is baie soos ’n rit see toe. Dis ’n lang, vermoeiende reis. En as jy bereid is om ongemak te verduur, sal die beloning groot wees. Vir dit wat jy graag wil hê, moet jy bereid wees om hard te werk.

En laastens, watter waarhede sal jy altyd met jou dra?

Sukses en baie geld kan nie die liefde, die gesin en geliefdes vervang nie. Jack Welsch van General Electric het gesê: “Jy moet die werklikheid sien soos dit is. En nie soos jy wil hê dit moet wees nie. Die ware werklikheid moenie misgekyk word nie. Bly binne die werklikheid.”

Ook sê ek, vind geluk in jouself. En vind jouself.

“Ek gaan nou my vrou bel,” sê hy na jy die foto geneem het. Jy loop verby die houtkroegtoonbank en die varings met die druppels van die reën wat dit skrams gevang het. Die reuk van tabak gaan met die gloei van ’n sigaret teen die donkerte op. Nadenkend, soos op die foto, tuur hy met die uitstap die nag in. Dis miskien die begin van nog ’n storie ...