
Transito - die agtergrond
Die Burger Joernaal, 2008
Kort voor Transito se eerste episode op Kyknet verskyn het, het Deon met Jeanne Calitz van Die Burger gesels oor die skryf van die draaiboeke.
Transito se skelms almal ‘dierbaar’
TRANSITO begin sommer met ’n stewige dosis aksie, ’n transito-rooftog wat verkeerd loop.
Die konsep vir dié reeks het lank in sy kop gemaal, sê die Kaapse spanningskrywer Deon Meyer.
“Ek het gewonder wat sal gebeur as die rowers én veiligheidsmense in die aanval omkom en ’n derde party op die toneel afkom. Hy swig natuurlik voor die versoeking van die geldtrommels en vat die pad daarmee.
“En dan,” gaan hy voort, “is daar ’n klomp mense wat goed in die trommels het, belang het daarby, en eindelik is almal op die spoor van die geld.”
Dié opsomming gee ’n goeie idee van wat in dié reeks verwag kan word. Deon beskryf dit as “spannend maar nie swaar” nie.
Hy sê ook kykers moenie dink dit gaan dieselfde verloop as verlede jaar se Orion hê nie, die TV-reeks gegrond op sy bekroonde boek.
“Transito is, anders as Orion, ’n spanningsreeks wat homself nie te ernstig opneem nie.
“Dit is ’n ligte spanningsreeks eerder as ’n wroegende verhaal. Ek het nodig gehad om dit meer lig as donker te skryf.”In ’n onlangse onderhoud met van die akteurs in die reeks kon die spelers nie uitgepraat raak oor die wonderlike geleentheid om Deon se unieke, volronde karakters te vertolk nie. Deon aanvaar die kompliment met ’n glimlag. Dit het hom duidelik net soveel plesier gegee om die karakters te skep, om aan hulle soveel fasette te gee. Sy booswigte is byvoorbeeld nie nét sleg nie. Die onverbiddelike Kruger (vertolk deur Michelle Burgers) is ’n goeie voorbeeld.
“Sy is ’n ruwe diamant, eintlik die sout van die aarde,” sê Deon. “Maar sy is deur die lewe se meule. Sy het sterker anderkant uitgekom. Sy vat nie nonsens nie. Van niemand nie.
“Op ’n manier het Kruger iets edels in haar. Maar sy moet darem iemand kry om haar vuilwerk te doen – die karakter Priester.” Priester is ’n psigopatiese huurmoordernaar. “Hy praat suiwer Afrikaans, is hoogdrawend, intelligent en welbelese. Dít is sy karakter se reddende eienskap.” Die interaksie tussen Kruger en Priester lewer interessante kykstof.
“Hy kan nie emosie voel nie, want hy is ’n psigopaat. Hy gebruik Kruger se emosie.
“Sy wil moor, maar sy kan nie; hy wil voel, maar hy kan nie.”
Deon sê sy uitgangspunt met die skep van ’n karakter is dat die meeste mense voete van klei het. “Die lekkerste van die reeks is dat almal, met die uitsondering van die polisieman, ’n klomp skelms is – maar hulle is meestal dierbare skelms.
“Die meeste van ons het al iets gedoen waaroor ons nie eintlik wil praat nie, en dit is waarby ek in die reeks wil uitkom.”
Deon erken om ’n TV-reeks te skryf is ver verwyder van die skryf van ’n boek. “Dit is ’n nuwe toertjie wat ek moes leer. Die verskil lê in die struktuur.
“In ’n televisieverhaal is die struktuur byna alles.”
“Jy moet só skryf dat die konflik voor elke advertensiebreuk tot ’n hoogtepunt opbou om seker te maak die kyker kom terug.”
’n Ander verskil is in die manier waarop konflik oorgedra word. “In ’n boek kan ’n mens die interne konflik van die karakter verken, maar met ’n draaiboek is dit moeilik om so iets oor te dra. “As jy vir televisie skryf, moet jy ook die begroting in gedagte hou. Dit is nie ekonomies om ’n klomp goed te laat opblaas nie. Dit is waarom Priester ’n wurgdraad eerder as ’n geweer gebruik om mense uit die weg te ruim. Dit is duur om mense dood te skiet,” sê Deon. Hy is beïndruk met die talent en geesdrif van mense in die plaaslike televisiebedryf.
“Dit is ongelooflik wat ons mense met klein begrotings kan doen.”
Voel dit soms vir hom vreemd om sy karakters, waaraan hy so mooi in sy kop geskaaf het, aan akteurs en hul interpretasies af te staan? “Met Orion het ek geleer jy moet eenvoudig ’n geloofsprong maak.
“Die akteurs van Orion het my só oorrompel met hul talent. Hulle is wat my betref almal geniaal. “Dit is ongelooflik om te dink die karakters wat ek geskep het, dra nou hierdie mense se gesigte.”
Met die reeks Transito het hy ook die geloofsprong gegee: “’n Mens kan die akteurs se talent vertrou en glo hulle sal die rolle met deernis vertolk”. Deon is nie teleurgestel nie. “Dit wat ek reeds van Transito gesien het, lyk ongelooflik. Dit maak my geweldig trots.”