
Oop Kaarte
Die Burger, 2008
'Stiltetyd' is 'n vervolgverhaal van 12 hoofstukke wat in 2008 in Die Burger verskyn. Kort nadat dit afskop, gesels Murray la Vita van Die Burger met Deon. Klik hier vir Die Burger se webwerf
Oorgehaal vir nóg spanning
Die Deon Meyer wat die voordeur van die ruim huis in Vierlanden, ’n boomryke noordelike voorstad van Kaapstad, oopmaak, lyk anders as die fronsende borselkopman op die agterplat van sy nuwe boek. Die een met die swart rolnektrui wat op ’n strand (dalk Blouberg) lê en homself op sy voorarms stut. As jy die boek optel en nader aan jou gesig bring, sal jy sien die kleur van sy oë resoneer met die see en berge op die agtergrond.
Sedert sy vrou, die fotograaf Anita Meyer, dié foto geneem het, het sy ligte hare langer geword. Dit is in ’n paadjie van links na regs gekam. ’n Sagter voorkoms.
Meyer se arms is aanvanklik voor sy bors gevou. Die moue van sy strepieshemp is tot bo sy elmboë opgerol. Aan sy linkerpols is ’n bonkige, waterdigte swart Protek-horlosie wat ook ’n barometer en ’n termometer bevat. Dit is net ná tien op ’n Maandagoggend, maar hy het waarskynlik al minstens vier uur van skryfwerk agter die rug.
Hy skryf sedert verlede Desember heeltyds. In ’n smal, langwerpige vertrek aan die punt van ’n gang in hierdie huis. Hy en Anita en hul vier kinders het onlangs hierheen getrek van Melkbosstrand af.
“Die voordele is gróót. Vir die eerste keer in my lewe hoef ek nie meer vieruur in die oggend op te staan om te begin skryf nie. En ek het ’n soveel groter deel van die dag tot my beskikking. Ek werk nou so dat ek iewers tussen vyf en ses begin skryf; dis ’n halwe gewoonte om nog steeds daai vroeë oggend te benut. Maar nou’t ek tyd, jy weet; ek vat in die oggend die kinders skool toe – wat vir my baie lekker is – en dan gaan haal ek hulle weer in die middag. Maar dan werk ek tot so teen middagete, dan het ek sewe, agt ure se skryf agter die rug.
“En daai luukse: om vir ses, sewe, agt ure aanmekaar te skryf ... aanmekaar is nou relatief, jy weet, ’n mens gaan nou en dan ’n koffietjie maak net om jou kop skoon te kry ... daai luukse is fantasties.”
Daar is ook nadele.
“Ek dink die grootste nadeel is dat ek nou baie minder stimulasie kry. Veral met my werk by BMW (as strategiekonsultant) die laaste vyf jaar het ek verskriklik baie gereis, veral in Suid-Afrika. En jy word blootgestel en gestimuleer deur nuwe plekke, nuwe mense, nuwe stóries. En dít mis ek. So ek moet nou kompenseer daarvoor deur baie meer doelbewus tyd te maak vir daai soort van dinge.
“Ek dink dit is die enigste régtige nadeel – dat my wêreld verklein het. Ek is maar in en om die huis, en om vir my vrou iets by Pick n Pay te gaan koop is nogal ’n groot uitstappie deesdae.”
Hy lag.
‘EK KRY HULLE JAMMER’
Die besonder spanningsvolle 13 Uur laat ’n mens wonder watter invloed die skep van so ’n storie op die psige van die skrywer het.
“Noudat ek voltyds skryf, is dit twáálf maande wat ek saam met hierdie karakters leef. So dié mense word regtig . . . Ek dink nie ’n mens se brein kan onderskei tussen fiktiewe mense en regte mense nie. Jy hoor wat hulle sê. Jy weet wat hulle voel, baie meer as wat jy met regte mense weet wat hulle emosies is. So die identifikasie is verskriklik sterk. Ek raak baie betrokke by my karakters, en as dit met hulle sleg gaan, met die karakters vir wie ek regtig omgee, dan vóél ek dit, jy weet . . . ek kry hulle jammer. Ek gun hulle dit nie, en dit is vir my moeilik om daardie tonele te skryf. En dan is die verligting aan die einde van ’n boek wanneer hulle al die slaggate deur is, baie groot. Ek het so ’n lígte gevoel aan my as ek die laaste bladsye skryf.”
13 Uur is Meyer se sewende roman in Afrikaans. Op die omslag van vorige romans verskyn dié sin: “Die gewildste spanningsverhaalskrywer in Afrikaans.” Maar nie op hierdie een nie. Dis asof die uitgewer aanvaar almal weet dit reeds.
Meyer se gewildheid strek natuurlik ver buite die grense van Afrikaans en Suid-Afrika. Sy werk is al in 17 tale vertaal. En twee dae ná ons onderhoud word ’n droom van hom waar: Hy kry ook ’n Japanse uitgewer. Die beskeie man noem terloops in ’n telefoongesprek Proteus en Onsigbaar gaan in Japannees vertaal word. Hy is pas terug van Duitsland, waar hy die Duitse weergawe van Onsigbaar (Weißer Schatten) gaan bekend stel het. Dié boek is tans op Die Welt se toptienlys van beste misdaadromans. Hy verkoop die meeste boeke in Duitsland en Frankryk, met Brittanje ’n kortkop agter.
Op ’n prominente plek teen ’n muur in die leefvertrek van hul huis het sy vrou drie horlosies gehang. Elkeen is vir ’n ander tydsone gestel. Só hou sy tred met hoe laat dit op ’n gegewe tydstip is waar haar man hom aan die ander kant van die aardbol bevind.
DIE MAN MET DIE ROOI MUS
Voor in Meyer se eerste roman, Wie met Vuur Speel, staan: Vir die man met die rooi mus, Cornelius Petrus (Neil) Meyer (1924-1991), my pa en gunsteling-storieverteller.
“Ja, ek moet elke keer my liefde vir stories en vir lees herlei na my pa toe. Hy was hierdie natúúrlike storieverteller. Maar hy kom ook uit ’n geslag van storievertellers. Dit was die era voor televisie. So sia li se ring en vermaak het plaasgevind rondom ’n tafel of ’n vuur waar stories vertel is. “My pa sou byvoorbeeld elke aand by die huis kom en sy dag as ’n stórie vir ons vertel. Op so ’n boeiende manier. En stories uit sý jeug uit.
“Die man met die rooi mus ... as ons nou iewers heen ry, dan sal my pa sit en stories opmaak oor die man met die rooi mus. En dan sou hy kindertjies gehad het wat almal rooi mussies gedra het.”
Sy pa het arm grootgeword en moes ná standerd ses die skool verlaat. Hy het hom as elektrisiën bekwaam en aanvanklik by African Theatres in die Kaap gewerk. “Wat vir my so mooi was, is toe ek in die weermag was, toe het my pa uit . . . omdat hy nou by African Theatres was wat destyds die plek was waar hulle opera opgevoer het en waar hulle Shakespeare gedoen het . . . toe het my pa vir my briewe geskryf waar hy uit sy kóp uit Julius Caesar se toesprake uit Shakespeare uit vir my aanhaal, uit die kóp uit. Wóórd vir wóórd het hy dit onthou. En byvoorbeeld as Aida op die radio speel, dan sing my pa saam, dan ken hy ál die woorde.”
’N NUWE BOEK BROEI
’n Besonder hegte band bestaan tussen Meyer en sy redakteur, dr. Etienne Bloemhof van Human & Rousseau.
“Dis vir my ’n verskríklike belangrike verhouding. Ek het nou al met redakteurs in ’n klomp lande en ’n klomp tale gewerk, en ek kan vir jou sê Etienne is wêreldklas. Hy is régtig, régtig.”
Die groot ding is vertroue.
“Ek weet dit klink baie snaaks, maar as ek ’n boek klaar geskryf het, dan het ek ’n vertérende vertwýfeling in die boek. Ek is séker daarvan dat dit ’n totále mislukking gaan wees; dat niemand dit gaan lees nie; dat dit klomp twak is en dat Etienne vir my gaan laat weet . . . Wat ook gebeur, is dat ek hier in die helfte al begin twyfel en dan sal ek dit vir hom stuur en sê: ‘Etienne, sê vir my eerlik: wérk dit enigsins?’ En ek móét hom vertrou ... Dis wonderlik om dit met Anita te kan deel, maar sy’s liéf vir my. Hoewel sy sê sy is objektief in haar reaksie, is ek maar bekommerd; sê sy nie net so omdat sy my liefhet nie?” Die idee vir ’n nuwe boek is reeds daar.
“Ek moet nou begin. En dit lê soos ’n berg voor my. Want jy weet dit is ’n jaar wat jy in hierdie wêreld gaan íngaan, en dis dalk die één ding wat skryf verskillend maak van die meeste ander beroepe: jou werkswêreld is suiwer fiksie. En dis hoekom dit vir my so wonderlik is dat Anita lees soos wat ek skryf, want dis minstens een ander mens met wie ek hierdie wêreld wat net in my kop bestaan, kan deel.
“Dis ’n ding wat jou insuig, en as jy eers in is, dan . . . ek het ’n baie sterk emosionele band met dit wat ek doen, so dis so ’n halwe op en af. Veral aan die begin. Die eerste derde van ’n boek is die probleemstelling van die storie en waar jy jou karakters voorstel en hulle het net moeilikheid, jy weet, dit is die groot uitdagings wat voorlê. En natuurlik die werk . . . jy sien hoe die 400, 450 blaaie hier voor jou lê; daar’s nog niks op papier nie en dan moet jy begin.
“Dis soos om opdraande te klím of te stáp. Totdat jy uiteindelik by die klimaks van die boek kom, en dan is dit hierdie geweldige verligting van nou’s jy amper klaar en jou karakters is oukei en jou storie, dink jy, werk redelik. En daarna is dit die slot wat jy met groot verligting skryf. En as ek klaar is, is dit soos ’n geweldige gewíg wat van my skouers af is. En dan dink ek: Nooit weer nie! Dis die laaste boek wat ek gaan skryf in my lewe.”
Hy lag.
“En dan, ag, binne ’n maand of twee is die lus maar weer daar.”