In gesprek met Marita

Boeke-Insig, 2007

Oor vriendskap, skrywer wees, skryfdissipline en meer. Klik hier vir Boeke-Insig se webwerf

Die volledige onderhoud:

Ons noem mekaar op die naam en van – Deonmeyer en Maritavandervyver. Nie omdat ons formeel wil wees nie; dis net een van daardie verspotte dinge wat jy vroeg in ‘n vriendskap begin doen en as jy weer sien, het dit ‘n gewoonte geword.

En ons vriendskap loop al ‘n lang pad, van ‘n naweek in 1995 toe ons as skrywers genooi is om ‘n klomp betalende gaste te vermaak by ‘n soort kultuurnaweek langs die see. Ek het gegaan hoofsaaklik omdat ek as enkelma gehoop het daar sou maats wees om my kleuterseun te vermaak. Deon het, as enkelpa, soortgelyke onskrywerlike beweegredes gehad.

Dit het gewerk. Ons kinders het gekliek - en daarna het ons vele kindervriendelike dinge saamgedoen. Berggeklim, visgevang, piekniek gehou – en so tussen die kinders deur land en sand gesels. Oor mense en musiek, kos en karre, en bowenal oor boeke. Ons kon albei een of twee volwasse romans agter ons naam skryf, ons het so ‘n klein bietjie plaaslike bekendheid verwerf, ons het gedroom dat dit eendag moontlik sou wees om ‘n bestaan te maak as Afrikaanse skrywer…

Twaalf jaar later het Deon Meyer ‘n internasionale verskynsel geword. In die VSA reël hulle vir hom outeurstoere saam met sterre soos Michael Connelly. In Frankryk het hy reeds twee van die mees gesogte pryse vir misdaadfiksie ingepalm, en in Duitsland is hy laas jaar bekroon vir die vertaling van Proteus. Oor enkele maande, op 1 Januarie 2008, gaan hy eindelik heeltyds begin skryf.

En as Deon sê 1 Januarie, bedoel hy nie 2 Januarie nie. Vroeg die oggend van 1 Januarie, terwyl die res van ons nog Oujaarsnag se roes afslaap, sal hy agter sy rekenaar inskuif. Hy is een van daardie rare siele wat met vier uur slaap snags kan klaarkom. Jare lank douvoordag opgestaan om ‘n paar uur te skryf vóór hy ‘n gewone 9-tot-5-werkdag aandurf, selfs naweke aan die skryf gebly, vroeg soggens, sonder om die kinders af te skeep.

‘Die besef dat ek vir die eerste keer in amper dertig jaar nie ‘n maandelikse salaris gaan verdien nie, is skrikwekkend,’ erken hy. ‘Maar dit gaan ongelooflik wees om eindelik weer tot seweuur te kan slaap.’

Liewe Deonmeyer, skryf ek vir hom in die begin van ons onderhoud, jy weet ek is nie ‘n lui skrywer nie. Maar vir my is seweuur soggens vróég, vir jou is dit láát. Dis die verskil tussen gewone dissipline en bomenslike dissipline.

En dit, as enigeen wil weet, is hoe hy gekom het waar hy vandag is. Ysere dissipline en ‘n uitmergelende roetine. ‘Die beste raad wat iemand my ooit gegee het,’ sê hy ‘was my pa wat gesê het daar is nie kortpaaie na enige bestemmings wat die moeite werd is om by aan te doen nie.’ Aldus Meyer van Melkbos. Soos in Lemmer van Loxton, die hoofkarakter van sy nuwe boek.

* * *

MV: Eers die vervelige feite. In watter land verkoop jy die meeste boeke? En van watter soort syfers praat ons nou?Meer as 10 000? Meer as 50 000? The sky’s the limit?

DM: Ek verkoop die meeste boeke in Frankryk en Duitsland. Dit trek darem al met sommige titels hier by 50 000, as jy harde- en sagteband bymekaar tel. Ek hou nie met groot deeglikheid boek nie, weens ‘n kombinasie van onverstaanbare verkoopstabelle in vreemde tale, verslae wat tot lank na boekjaarsluiting eers aankom, en ‘n vae bygeloof dat dit swak smaak is om ‘die telbord dop te hou’.

MV: In watter land, waar jy nog nie gepubliseer word nie, sou jy die graagste gelees wil word – en waarom?

DM: Japan. Hulle lewer sulke wonderlike skrywers op, het ‘n sterk kultuur van misdaadfiksie en is ‘n nasie wat graag boeke koop. Daarby het ek nog glad nie ‘n uitgewer in die Ooste nie.

MV: Raak jy nie deurmekaar met die totaal uiteenlopende titels van jou boeke in verskillende tale nie? Infanta in Afrikaans, Devil’s Peak in Engels, De Artemis Affair in Hollands – en dit bly dieselfde boek!

DM: Lelik deurmekaar - ek moet gewoonlik mooi dink net om te onthou watter Engelse en Afrikaanse titels pas bymekaar. Waarom elke uitgewer in elke land ‘n eie, unieke titel móét uitdink, verstaan ek nie altyd nie. Is lesers en boekmarkte dan só verskillend? Infanta se Italiaanse titel is “Afrikaan Blues”. Bid jou dit aan.

MV: Kom ons kyk na die praktiese kant van skryf. Hoe en waar begin jy ‘n storie? By ‘n karakter, ‘n insident, ‘n onderwerp? En hoe bewerk jy die landery voordat jy jou eerste sin saai? Maak jy sketse, krabbel jy brokkies inspirasie op sigaretboksies, hou jy outydse papierlêers aan?

DM: My kop werk só: ‘n Voortdurende, outomatiese, instinktiewe, onderbewuste, frustrerende, heerlike, deurmekaar storiemaakproses, ‘n onophoudelike interaksie met die wêreld in en om my, waarin amper alles geweeg word vir storiepotensiaal. (Sê tog jy doen dit ook, ek is altyd bekommerd dat ek die enigste stapelgek skrywer is.)

Dit voel asof ek op enige gegewe oomblik twee, drie, vier legkaarte aan’t bou is in my kop. Sommige is nog net ‘n paar stukkies, ander is driekwart klaar, elkeen is ‘n storie in wording. Met somige legkaarte is ek glad nie tevrede nie, oor ander raak ek vreeslik opgewonde. Aan sommige bou ek vier, vyf jaar, ander is binne weke feitlik klaar. En met die meeste kan ek nie onthou waar die eerste stukkie vandaan gekom het. Dis hoekom ek sê ek weet nie hoe ‘n storie begin nie.

Oor die storie en karakters en struktuur maak ek nooit notas of prentjies nie, want ek sien die ding helder genoeg in my kop. Ek skryf wel lang aantekeninge wanneer ek navorsing doen deur byvoorbeeld onderhoude te voer. Ek het in ‘n stadium ‘n notaboekie rondgedra omdat ek bang was ek sal storie-idees vergeet, maar ek het besef ek vergeet nie dié wat my opgewonde maak nie - hulle is legkaarte wat hulself aanhou bou. Navorsing bestaan soms uit koerantuitknipsels, boeke en aantekeninge wat ek losweg in ‘n lêer sal stop, of wat gedurende ‘n boek se skryfproses iewers op die lessenaar sal lê, tot ons huishulp se ewige frustrasie.

MV: Watse soort skrywersvrese ry jou?

DM: Grotes, eienaardiges. Soos wanneer ‘n boek amper klaar is, dan kry ek ‘n verskriklike vrees dat dit loutere strooi is en ek uiteindelik ontmasker gaan word as ‘n talentlose mislukking wat te lank met moord weggekom het.

‘n Misdaadskrywer wat met moord wegkom – ek wonder of dit ‘n doelbewuste woordspeling of ‘n Freudiaanse glips is. Ek sou hom seker kon troos met Tsjechof se gevleuelde woorde: Dissatisfaction with oneself is one of the fundamental qualities of every true talent. Maar ek doen dit nie, want netnou dink hy ek vlei hom net om inligting uit hom te trek vir die onderhoud.

MV: Hoe weet jy wanneer ‘n storie klaar geskryf is – en hoe moeilik is dit vir jou om dit uit jou hande te laat gaan?

DM: So met die laaste derde van ‘n boek het ek gewoonlik ‘n baie goeie idee hoe dit gaan eindig – en dan skryf ek soos ‘n stoomtrein op daardie einde af. Die laaste paragraaf, sin en woord is ‘n Okkasie, wat ek gewoonlik met groot euforie afhandel. En dan is dit vir my ‘n verskriklike verligting om dadelik die boek vir Etienne Bloemhof, my redakteur, aan te stuur.

MV: Wat was die eerste speurverhaal wat jy gelees het wat jou werklik opgewonde gemaak het oor die genre? Wat is na jou mening die beste speurverhaal ooit? En watter speurskrywers lees jy deesdae die graagste?

DM: Ek kan die skrywer onthou – wyle Evan Hunter onder die beroemde skuilnaam Ed McBain – maar nie die spesifieke boek nie. Dit was een van sy vroëe 87th Precint-verhale, moontlik Doll, Axe of Fuzz. Ek lees en geniet steeds sy werk soos ek dit opspoor. Een van my lekkerste oomblikke die afgelope paar jaar was toe een van my boeke langs syne in ons Nederlandse uitgewer se katalogus verskyn het – ‘n groot eer.

Ek het lank gedink McBain se Ten Plus One was die beste speurverhaal wat ek nog gelees het, maar vermoed Michael Connelly se City of Bones is dalk beter. Of wat van Richard Stark se Point Blank, of James Elroy se L.A. Confidential ... Ek het ‘n lang lys van gunsteling-skrywers wat elke jaar langer word: Connelly, Scott Turow, Ian Rankin, John Sandford, Dennis Lehane …

MV: As jy soos in Ray Bradbury se Fahrenheit 451 één boek moes memoriseer sodat dit vir die nageslag bewaar kan bly in ‘n wêreld waar alle boeke verbode is, watter boek sou jy kies?

DM: JM Coetzee se Disgrace. Sodat die nageslag kan weet hoe lees die perfekte roman.

Ek het ‘n staaltjie om met hom te deel, maar miskien moet ek dit ook eerder los tot ná die onderhoud. Laas jaar beland ek aan ‘n etenstafel saam met ‘n spul Franse wat oor boeke klets. Watter Suid-Afrikaanse skrywers ken julle, vra ek, bloot uit gewoonte, want die antwoord is byna altyd JM Coetzee en/of André Brink. Soms, by uitsondering, Nadine Gordimer. Maar daardie aand antwoord drie mense om die tafel: Deon Meyer. Geen ander naam word genoem nie. Dis die oomblik toe dit tot my deurgedring het dat die beskeie Deonmeyer dit gemáák het in my aangenome land.

MV: Een van jou vele gawes is dat jy goed kan kook. Wat is deesdae jou gunsteling-gereg om vir gaste te maak? En wanneer jy in ‘n restaurant eet?

DM: Deesdae staan ek in die skaduwee van my vrou, Anita, se kreatiewe en passievolle kookkuns. Ek moet beken my grootste vreugde is die braai van delikate lamstjoppies, wat ons saam met haar slaai en my tuisgebakte brood bedien. Jy sal seker dié vleis-voorkeur ook sien as ons gaan uiteet. Ons skrik nie vir ‘n lekker seekosbord nie, maar ondanks verskeie geesdriftige pogings, hou ek nie veel van sushi nie.

MV: Wat is volgens jou jou beste eienskap as skrywer? En as mens?

DM: Ek het ‘n groot nuuskierigheid oor vele uiteenlopende onderwerpe (weet dus ‘n klein bietjie van baie), wat sekerlik help wanneer dit kom by stories uitdink. As mens sal ek graag wil dink my deernis en empatie met ander mense is ‘n goeie ding.

MV: En die omgekeerde: jou swakste eienskap as skrywer óf as mens?

DM: Ek kan soms ‘n intense, verlammende vertwyfeling oor my eie vermoë as skrywer hê. En as mens gaan my aggressie teenoor mense wat geen deernis vir ander het nie, my nog kniediep in die moeilikheid kry.

MV: Wat is jou Proustiaanse koekie – die reuk of smaak of klank of voorwerp, soos Proust se Madeleine-beskuitjie, wat ‘n hele wêreld van jeugherinneringe oproep?

DM: Daar is so baie. Dettol, waarmee my ma al ons wonde versorg het, maar wat ook herinner aan die perfekte sonskyn-somderdae by Klerksdorp se munisipale swembad (daar was Dettol in die voetbaddens buite die kleedkamers). Ingram’s se kanferroom vir skurwe winterhakskene na lang middae van rugby op die witgerypte rugbyveld. Oros se lemoengeur-koeldrank. Pik, waarmee ons tuisgemaakte kano’s waterdig gemaak het ...

MV: En ‘n laaste vraag, Deonmeyer. Enigeen wat Onsigbaar lees, sal vermoed dat jy ‘n persoonlike verbintenis met die dorp Loxton het. Reg of verkeerd?

DM: Loxton is 'n lang storie, maar laat ek probeer om dit kort te hou: In 2000 het ek vir die eerste keer met 'n motorfiets in die Bo-Karoo gaan rondry, om navorsing te doen vir 'Proteus'. Die landskap het my heeltemal betower. In 2004 het ek 'n verskoning gehad om terug te gaan om 'n plek te soek vir ‘n motorfiets-uitdaging wat ek jaarliks vir BMW reël. En toe ontdek ek vir Loxton, 'n pragtige dorpie 100 km noordwes van Beaufort-Wes. Ek het verlief geraak op die plek, die paaie (perfek vir motorfietse), die mense. Verlede jaar het ek en Anita 'n erf op die dorp gekoop en ons is besig om 'n huisie op te sit. Ons hoop om langnaweke en vakansies daar deur te bring en vir die kinders te wys daar is 'n wêreld wat kan oorleef sonder televisie, iPods, Playstations en selfone.