
Orion op TV
Die Burger, 2005
Net voor Die TV-reeks van Orion op KykNet gebeeldsaai is, het Die Burger die volgende onderhoud geplaas - deur Mariana Malan. Klik hier vir Die Burger se webwerf
Meyer-boeke verfilm
EEN van Deon Meyer se boeke word tans as ’n televisiereeks verfilm. ’n Ander gaan aanstaande jaar ’n rolprent word. Op ’n derde is nou ’n opsie om ook daarvan ’n fliek te maak.
Sy boeke Feniks, Orion en Proteus is al in onder meer Engels, Frans, Duits, Nederlands, Spaans, Italiaans, Tsjeggies, Bulgaars, Deens en Fins vertaal. Die jongste boek, Infanta, se vertaling in Engels is pas klaar. Dit het nog nie ’n Engelse titel nie. Die ander boeke heet in Engels Dead before Dying (Feniks), Dead at Daybreak (Orion) en Heart of the Hunter (Proteus).
So iets is ’n prestasie vir enige skrywer; maar as dié skrywer nog net vier boeke geskryf het, klink dit na ’n prestasie wat moeilik geëwenaar kan word. Meyer is boonop nie heeltyds skrywer nie. Hy verdeel sy tyd tussen skryf en as vryskut-konsultant werk – vir die firma BMW se motorfiets-tak.
“Skryf is een van my twee betrekkings. Ek sien dit nie as ’n stokperdjie nie, want as jy internasionaal wil meeding, kan dit nie net ’n tydverdryf wees nie. Ek sou graag meer tyd aan skryfwerk wou bestee, maar nog so ’n kwart van my tyd konsultasiewerk doen. Ek voel blootstelling aan ander dinge is noodsaaklik.”
Toe hy begin skryf het, vertel hy, het hy nie eens gedink aan die moontlikheid dat sy werke internasionaal gepubliseer sal word nie.
“Ek was pas in München. Daar het ek deur ’n boekwinkel geloop en my boeke op die rak gesien. Dis die mees onwerklike gevoel wat jy jou kan voorstel. Hier staan my boeke in Duitsland, en ek is maar net ’n outjie wat op Klerksdorp grootgeword het.”
Meyer se Feniks het in 1996 verskyn, Orion in 2000, Proteus in 2003 en Infanta verlede jaar. In 2003 het Feniks ’n Franse prys, Le Grand Prix de Littérature, gekry, terwyl Orion in 2004 nog ’n Franse prys, Le Prix Mystère de la Critique, ontvang het. In Suid-Afrika het hierdie twee boeke die ATKV-prosaprys gewen. Dié prys is ook toegeken aan Infanta, wat vanjaar ook op die kortlys vir die M-Net-boekprys was.
Meyer was betrokke by die skryf van die draaiboek van Orion. Dit word as ’n televisiereeks met tien episodes vir M-Net verfilm. Weens ’n gebrek aan tyd het Meyer net die laaste vyf episodes geskryf.
Hy werk tans aan die draaiboek van Heart of the Hunter. Laasgenoemde boek sal deur ’n Amerikaanse rolprentmaatskappy in Suid-Afrika verfilm word met die plaaslike regisseur Zola Maseko, bekend om die fliek Drum, aan die stuur.
Meyer beskryf die werk aan die draaiboeke as ’n “stywe leerkurwe”. Vir die televisiereeks moes dele bygevoeg word, en by die ander moes weggelaat word. Ander dinge, soos die koste van die voorstelling van tonele, moes in ag geneem word. Dit was egter vir hom “baie stimulerend en uitdagend”.
Hy meen die verfilming van sy boeke sal baie vir sy loopbaan as skrywer doen. Hy hoop dat dit ook iets vir Suid-Afrika kan beteken. Hy het dit as een van die voorwaardes vir die televisiereeks gestel dat plaaslike mense betrokke moet wees en dat dit ’n ontwikkelingsprojek moet wees.
Hy skryf tans ook aan ’n boek met die werktitel Die Lyfwag.
Hy sal bly skryf in die genre (speur-spanning) waarin hy begin het. Sy stories is Suid-Afrikaans, en hy skryf oor eiesoortige karakters, politiek, selfs eiesoortige misdade.
“As skrywer is jou naam ’n handelsmerk. As iemand ’n boek van my, of enige skrywer, sien, moet hy weet wat om te verwag. Ek moet nog hard daaraan werk om my naam gevestig te kry.”
As iemand wat pas in Amerika ’n bekendstellingstoer van sewe stede in sewe dae saam met dié land se voorste misdaadskrywer, Michael Connelly, agter die rug het, lyk dit of hy flink op pad is.
* Orion word tans in Kaapstad verfilm met onder andere Neil Sandilands en Erica Wessels as akteurs. Die regisseur is Gerrit Schoonhoven. Dit sal waarskynlik teen middel aanstaande jaar te sien wees.