
Wie Met Vuur Speel
Het jy geweet?
Dié boek is in 2007 vir die eerste keer sedert 1994 herdruk - met 'n splinternuwe voorblad (dankie tog!) (Loer gerus na die oorpsronklike voorblad hier onder - en vergelyk dit met die herdruk.) As jy wil weet waarom nou eers, lees "Die Storie agter die storie" hier onder.
Daar's ook 'n resensie van die heruitgawe heel onder aan dié blad.
Soos 'n Broer In die Tronk:
Deon sê oor sy heel eerste roman:
Oor dié boek, my eerste roman, voel ek baie soos iemand wat 'n broer in die tronk het - jy kan dit nie ontken nie, maar jy praat nie graag daaroor nie.
Toe ek dit so twee jaar na eerste publikasie weer lees, het ek besef dat dit (vir my) 'n tipiese eerste boek was: 'n Steil leerkurwe, met baie leemtes. Daarom was ek vir baie jare gekant teen 'n herdruk. Maar die versoeke van talle lesers het my laat herbesin. Dit word in 2007 herdruk - met 'n voorwoord wat die lseser se begrip sal vra.
Die Storie Agter Die Storie:
In 1990, met 'n paar gepubliseerde kortverhale agter die blad (in populêre Afrikaanse tydskrifte) wou ek baie graag my hand waag aan 'n roman. Maar vir een ding het nie kans gesien nie - om 'n jaar lank soggens vieruur op te staan en te skryf aan 'n manuskrip wat niemand wil publiseer nie.
(Vieruur in die oggend was die enigste beskikbare tyd tussen 'n veeleisende betrekking by Sanlam en 'n bedrywige gesinslewe.)
Daar was net een manier om te probeer uitvind of uitgewers sou belang stel in dit wat ek in gedagte gehad het: praat met hulle. Danie Botha en Frederik de Jager by Tafelberg Uitgewers het ruimskoot raad gegee: "Ja, ons stel belang in spanningsverhale. Ja, ons glo dit sal verkoop."
Waarom het ek begin spanningsverhale skryf? Omdat ek versot is daarop om goeie spanningsverhale te lees. En ek glo 'n mens moet jou hou by jou smaak. Ek dink nie ek sal baie goed vaar met hogere letterkunde nie.
Wie met vuur speel se werkstitel was "Ikarus" en ek het die storie stelselmatig ontwikkel op pad van Melkbosstrand Belville toe - goeie dinktyd in die motor - tot ek min of meer 'n werkbare storielyn gehad het. En toe het ek begin skryf.
Ek glo steeds die twee helfte van Vuur is beter geskryf as die eerste, bloot omdat 'n mens met enigiets verbeter hoe meer jy dit doen: soos fietsry. Jy moet eers 'n paar keer goed val en bloei voor jy jou balans gaan vind. My skryfnerwe het maar goed gewaai met Vuur, maar die skryf van dié boek het my geweldig baie van storie vertel geleer.
Ek het byna twee jaar lank daaraan geskryf en hoewel Tafelberg dit redelik vinnig aanvaar het (tot my onbeskryflike verligting), was dit nog twee jaar voor dit in boekvorm verskyn het.
Ek glo steeds Ikarus sou 'n beter titel gewees het - en lekker ingepas het by "Feniks" en "Orion", maar daar's niks wat ek nou daaraan kan doen nie. Die uitgewer het destyds gemeen eenwoord-titels sal nie werk nie.
Resensie van die herdruk - 2007:
DEON MEYER het in 2007 sy sesde boek, naamlik Onsigbaar, uitgegee tot die groot genot van Suid-Afrikaanse en internasionale lesers.
Tafelberg het dit goed gedink om saam met die geleentheid Meyer se eerste boek, Wie met vuur speel, wat oorspronklik in 1994 uitgegee is en reeds geruime tyd uit druk is, weer op die rak te plaas. Meyer word as ’n ervare skrywer gereken wat presies weet wat sy lesers in ’n spanningsverhaal soek. Uiteraard moes Meyer ook die fynere skryfkunsies leer en alhoewel Wie met vuur speel ’n goeie boek is, is dit duidelik dat die skrywer met die jare sy voete deegliker gevind het.
Meyer het ook al te kenne gegee dat hy nie altyd heeltemal te vinde was vir die idee om sy eerste poging weer uit te gee nie. Die herhaalde versoeke van sy aanhangers het hom egter naderhand oortuig en hier is die boek nou. In ’n nuwe omslag met ’n treffende ontwerp van ’n vuurwapen op die voorblad – ’n groot verbetering op die vorige (redelik wulpse) omslag.
Die verhaal self draai om Meyer se eerste held, Ivan Malan, ’n oudsoldaat, wat op ’n daaglikse basis stry en baklei met die spoke uit sy verlede. Malan was deel van ’n geheime organisasie met militêre bande wat vir die destydse regering ’n verskeidenheid van skrikwekkende en onwettige operasies uitgevoer het.
Ná die val van apartheid was daar nie meer plek vir manne met sy agtergrond nie en Malan is met ’n skeidingspakket in die hand in die pad gesteek. Sy enigste opsie waar hy iets kon doen met sy spesifieke aanleg en opleiding was om ’n tipe private speurder te word vir mense wat “unieke” probleme het. Ragel Bergh is een van daardie mense. Ná ’n ongelukkige sameloop van omstandighede en ’n paar swak besluite verloor Bergh ’n klomp geld op ’n pynlike wyse. Sy probeer haar probleme oplos deur die gewone kanale te gebruik, maar as die metodes geen vrugte afwerp nie, draai sy na die onkonvensionele Malan vir hulp.
Hy is minder lus vir die emosionele vrou wat haarself soveel skade berokken het, maar hy onderneem steeds om haar te help. En dit is hier waar die aksie regtig begin.
Malan kruis swaarde met die man wat vir Bergh se pyn en verlies verantwoordelik is en die tempo van die boek neem drasties toe soos die twee mekaar probeer uitoorlê.
Alhoewel die eerste deel van die boek nie so vinnig soos die tweede lees nie, is dit glad nie ’n probleem nie. Dit raak ook duidelik dat Meyer van hier sy tipiese ritme begin vind, wat so duidelik sigbaar is in die res van sy boeke. Alhoewel die verhaal van hoe Malan vir Bergh help die hoofstorie van die boek is, is daar ook ’n agtergrondstorie wat Meyer aan die einde van die verhaal vernuftig verbind met die hoofstorie.
Oor die algemeen het ek ’n baie goeie indruk van die boek gehad en bogenoemde kritiek teen Meyer se eersteling is bloot omdat ’n mens sekerlik nie net lofgesange kan sing oor sy skryfwerk nie. In der waarheid is dit ’n goed georkestreerde verhaal wat maklik lees en meer as genoeg aksie en spanning het om die leser dolgelukkig en smagtend na meer te hou.
- Corli van der Merwe – subredakteur, Volksblad