
Spoor
Die gerug ...
“Dit was die rumour. Hulle wil weapons inbring. Vir ‘n attack, hier. Vir die eerste keer.”
“‘n Muslim attack? In Suid-Afrika?”
“Ja. Hie’. Cape Town. Die mooiste Kaap.”
Net ‘n gerug. Onwaarskynlik.
Waarom skarrel die Presidensiële Intelligensie-agentskap dan so om die besending te onderskep? Waarom bring die CIA hul groot kanonne in?
Waarom trap dit alles so ‘n wye bloedspoor? Deur die lewens van Milla Strachan, verloopte huisvrou, wat net so ‘n bietjie gevaarlik wil leef; Lemmer, die lyfwag – belieg, bedrieg, besteel, vasbeslote om wraak te neem. En Mat Joubert, wat die onmoontlike moet vermag, die ondersoek na ‘n vermiste moet afhandel voor die geld opraak en die leidrade verdwyn.
Dalk is dit meer as net ‘n gerug.
Deel II se eerste hoofstuk:
Ek gaan soek nie moeilikheid nie, dit kom na my toe aan.
Elfuur op ‘n Saterdagoggend aan die stertkant van September. Ek en Emma le Roux in die Rooi Granaat, my wêreld in hierdie oomblik heel, byna perfek: Loxton se lui dorpsgeluide, ‘n kwikstert se groetfluit as hy knikkend by die restaurantdeur instap, die baan sonlig deur die noordervenster.
Ek het my groot ontbyt met genoegdoening afgehandel, die filterkoffie proe ryk en sterk.
Emma eet nog stadig en met sigbare genot aan die vars botterbroodjies, room en konfyt, ‘n pot tee staan en wag. Haar vel gloei, daar is ‘n blos op haar wange, want twee ure gelede was ons verstrengel op die spierwit lakens van my bed. Sy vertel my van die boek waaraan sy lees, haar stem altyd dieper as wat haar delikate lyf voorspel. Op die volmaakte boog van haar lip ‘n spatsel room, soos ‘n sneeuvlokkie.
<Dit alles te goed om waar te wees, want ek is Lemmer.
Asof die gode ontwaak, ‘n vae lawaai, diep, meganies, groeiend, harder, tot Emma ophou praat en haar kop draai. Tannie Wilna, die Granaat se alles, kom van die kombuis af in, vee haar hande aan haar voorskoot af. “Hoor julle dit ook?”
Ons luister hoe die rollende donder groei, rigting kry: ’n Inval, van Carnarvon se kant af. Ons kyk saam uit na die wye verkeersirkel om die kerk. Asof die dorp tot verhaal kom, peul mense meteens uit by die algemene handelaar, by die koöperasie. ‘n Groepie Bruin kinders kom van die kerksaal se kant af aangehardloop tot op die plein, uitroepe verlore in die kakofonie. Hulle wys skielik straat op, opgewonde vingers.
‘n Dramatiese verskyning op die nege-uur-speek van die sirkel: Bonkige wonderwerke van chroom en staal en swart. Lang leerslierte wat van handvatsels en saalsakke af wapper, vier Harley Davidsons – ridders met donkerbrille, verspotte valhelms, helder nekdoeke oor mond en neus getrek, bene en arms gestrek om pedale en stuurstange te bereik. Hulle verdwyn agter die kerk, verskyn weer, volg die boog tot hier voor die restaurant, hou stil. Stoot die gatkante na ons toe, netjies, in gelid, voorwiele straat toe. ‘n Laaste opjaag van die enjins, oorverdowende lawaai, skop staanders uit, trek nekdoeke af. Genadige stilte.
Klein nommerplate. Ek lees hulle in volgorde: NV ME. BOY’S TOY. LOUD,PROUD. En HELLRAZOR. Almal uit die Kaap uit.
NV ME klim van sy troon af, gespe sy valhelm los, trek die vingerlose leerhandskoene uit, dan die leerbaadjie met tossels daaraan. Staalgrys hare, duur en stylvol geknip, ‘n seunsgesig, baie selfvertroue. T-hemp sit ‘n bietjie styf.
Hy laat sy imperiale blik oor Loxton gaan. “Fokken one-horse town,” is sy uitspraak, vir almal om te hoor.
Die kinders kom aangehardloop, arbeiders kom van die winkel af nader.
Al vier ryers nou op vaste grond, leerbroeke, blinkswart stewels met silwer barok. Almal aan die liegkant van veertig, nommer twee is groot, seker twee meter, nommer drie is kort en klein, met ‘n rotgesig. Nommer vier gemiddeld, maar sportief.
“Staan weg! Julle kan kyk, maar julle vat nie,” gebied Staalgrys die kinders.
Hulle kyk grootoog na hom, hou hulle afstand.
Dan kom die ridders in, Staalgrys voor, gevolg deur Die Rot en Sportief, die Grote dek die agterhoede. ‘n Rangorde.
“Môre,” sê Tannie Wilna, “Welkom op Loxton,” met die liefdevolle hartlikheid wat sy vir almal gee.
Hulle inspekteer vir haar en die restaurant. “Het jy bier?” vra Staalgrys, onbeïndruk.
Emma draai terug na my toe, skud haar kop klein, eet haar botterbroodjie.
“Ons is ongelukkig nie gelisensiëer nie, maar die drankwinkel is net daar oorkant, ek stuur gou vir Mietjie. Kom, sit gerus ...” en sy hou haar hand uit na die groot sessitplek-tafel.
Staalgrys kyk vlugtig en metend vir my. Die Rot se oë spekuleer oor Emma. Dan gaan sit hulle. Agter op Sportief se T-hemp staan die legende, “If you can read this, the bitch fell off”.
Tannie Wilna neem vir hulle spyskaarte. “Wat se bier verkies julle?”
“Black Label,” sê Staalgrys. “Koud.”
“Gaan haal gou vir ons vier Black Lables daar by Zelda, asseblief,” sê Tannie Wilna vir Mietjie. “Vra tog dat sy van die koues uithaal.”
“Antie,” sê Staalgrys, “maak dit twaalf.”
“Baie drinkwerk om te doen,” sê Grote.
“Dorslandtrek,” sê Die Rot, hofnar in die Huis van Staalgrys, want hulle lag. Hu-hu-hu. Kamerade.
Tannie Wilna huiwer net ‘n oomblik voor sy knik. “Hoor by Zeldatjie of daar twaalf koues is, anders moet ons in die diepfreeze kom sit.”
Mietjie loop. ‘n Oomblik se stilte.
Buite ry vier bruinmense op ‘n donkiekar verby, Beaufort se kant toe, die hoewe klip-klop op die teer. Sportief kyk hulle agterna, sê “Agterpaaie”. Die ander lag weer, ‘n binnekring-grap. Hulle begin met ‘n gesprek, die stemme harder as wat nodig is, sodat ons, die gehoor, kan luister.
Emma gee my ‘n klein, nostalgiese glimlag wat sê ons magiese oomblik is verlore.