Proteus

Oor Thobela as karakter, sê Deon:

Fotogalery

"Soms is daar eers die storie - en dan volg die karakters om dit te laat werk. Met Proteus het dit andersom gewerk. Die protagonis, Tobela ("Tiny") Mpayipheli, het 'n kleiner rol in die vorige boek, Orion, gespeel, maar hy het as karakter en mens by my bly spook, asof hy nog nie gereed was om aan die verlede te behoort nie."

Die Storie Agter Die Storie:

Daar was maar altyd die begeerte om een van my groot liefdes in 'n boek by te sleep: Om op 'n motorfiets oor die vlaktes van hierdie goddelike en soms goddelose land te ry.

Proteus

Dit was die kern waaruit dié boek gebore is: Oud MK-soldaat en voormalige sluipskutter vir die Oos-Duitse Stasi en Russiese KGB, Tobela Mpayipheli, moet binne 72 uur 'n hardeskyf in Lusaka kry. En wanneer 'n span van die Presidensiële Intelligensie-agenstskap sy keuses van vervoer aansienlik verminder, "leen" hy 'n BMW R 1150 GS by sy werkgewer om die reis mee aan te durf.

Eksterne konflik is een van die belangrike boustene van 'n spanningsroman en in Proteus word dit verteenwoordig deur die Owerhede wat Mpayipheli probeer keer. Maar interne konflik sorg vir groter dimensie by karakters, meen ek. Daarom dat dié oudsoldaat so hard probeer om sy verlede van oorlog en geweld te vergeet - en 'n nuwe bestaan met Miriam en haar sesjarige seun, Pakamile, te skep.

Die werkstitel van dié boek was aanvanklik "Umzingeli", wat "die jagter" in Xhosa beteken. Want Mpayipheli is 'n gebore jagter, 'n man deur wie se are die krygsbloed sterk loop. En die uiteindelike vraag wat ek probeer beantwoord is of 'n mens kan stry teen jou inherente, ingebore natuur, veral wanneer die druk begin toeneem en die eise onmenslik groot word.

Die resensies

  • "Meyer kry dit weer reg om 'n boek te skryf wat jy nie kan neersit voordat jy weet wat gebeur het met Tobela Mpayipheli, wat dwarsoor die land op die groot, geel motorfiets vlug voor die veiligheidspolisie, of is dit die skurke, nie ... Perfekte vakansieleesstof.

    - Rapport

  • Anderhalf dekade gelede is die vraag nog gestel: ``Waarom is daar nie waarlik goeie spanningsverhaalskrywers in Afrikaans nie?''

    Dis tyd om op te hou wonder. Deon Meyer het hom bewys as die voorste eksponent van die spanningsriller-genre in die land.

    Sy jongste boek, Proteus, staan ook geensins terug vir die beste wat Brittanje of die VSA die wêreld instuur nie.

    In Proteus kom ons van sy reeds geskepte karakters weer teë: Zatopek van Heerden en Tobela ``Tiny'' Mpayipheli, maar dié keer is laasgenoemde die protagonis.

    Hy beland op 'n pad sonder omdraaikans wanneer 'n ou struggle-vriend se dogter, op haar pa se aanbeveling, hom om hulp nader. Tobela kan weens ``ou skuld'' nie weier nie, al bedreig sy nie-amptelike sending sy geluk saam met sy nuwe kitsgesin.

    Hy moet 'n rekenaarhardeskyf in Lusaka gaan aflewer om sy vriend se lewe te red, maar wanneer 'n spesiale Suid-Afrikaanse spioenasie-agentskap op sy spoor beland en sy roetes daarheen begin toestop, moet hy plan maak. Die gevolg is 'n rolprentagtige jaagtog wanneer Tobela 'n motorfiets steel en die pad noorde toe aanpak teen 'n oormag spesialiseenhede, die polisie en selfs helikopters.

    Die sentrale karakter se eertydse ondervinding as sluipmoordenaar en spioen maak van hom 'n onverwags waardige teenstander vir dié oormag.

    Dit kon net sowel 'n Hollywood-storielyn gewees het: 'n oud-agent word uit sy ``slaap'' gewek en beland in 'n situasie waarin hy op al sy verworwe kennis moet staatmaak om te oorleef en om sy onskuld te bewys.

    (Proteus was, terloops, 'n god en waarsêer wat sy uitsprake in sy slaap gemaak het. Wakker, kon hy sy vorm verander om homself te verbloem 'n voorste eienskap van 'n spioen.)

    Meyer benut in der waarheid talle spanningskeppende filmiese tegnieke om die verhaaldele aan mekaar te bind. Daar is heen en weer flitse tussen die verskillende karakteromgewings (waarvan hy die insetsels se lengte ook afwissel ten einde die spanning te beheer); koerantberigte; en terugflitse wat verskaf word deur transkripsies van onderhoude deur die regering se agente gevoer. Laasgenoemde word tussenin geplaas om stelselmatig al hoe meer lig op die intrige te werp.

    Want intrigerend is dit gewis. Dit gaan hier oor die nuwe Suid-Afrikaanse intelligensiebestel, wat maar steeds 'n grys onderwêreld is.

    Die verhaal snel, letterlik, voort met die hoofkarakters op parallelle paaie tot sy einde in Botswana en die uiteindelike ontknoping. Tot sy krediet bied die skrywer 'n geloofwaardige einde aan en nie 'n klimaktiese botsing wat die leser sou vervreem nie.

    Meyer het 'n gespierde skryfstyl wat beelde en besonderhede betref. Op plekke is dit selfs macho, met fyn besonderhede oor wapens en motorfietse lg. 'n groot liefde by die skrywer.

    Maar hy maak van Proteus meer. Daar is filosofiese nabetragtings deur van die hoofkarakters wat die verhaal tot iets heel anders verhef. Soos Tobela se bepeinsings oor Afrika, wat nie die ``Donker kontinent'' is nie, maar die ``Rooi kontinent'', wat ``lewe gegee het in oorvloed. En die dood as teenwig'' (p.102).

    Wanneer Tobela se ouers, van wie hy vervreem is, deur 'n agent in die Oos-Kaap opgesoek word, word daar nie net meer lig op sy agtergrond gewerp nie, maar ook op sy ouers s'n. Word dit duidelik waarom hulle op sekere paaie beland het.

    Dít is waarskynlik, benewens die spanning, die sterkste element van die boek. Meyer se karakterisering is uitsonderlik, met genoeg agtergrondinligting en terugflitse verweef om elke karakter se optrede te motiveer.

    Proteus is nie net 'n hoogtepunt vir hom nie, maar waarskynlik die beste (ont)spanningsverhaal nóg in Afrikaans.

    - Beeld