Orion

    Fotogalery
  • Die Volksblad sê: "Deon Meyer lyk maar so onskuldig op die omslag ... in daardie kop broei van die beste misdaadstories in Afrikaans uit.

  • Kyk Net: Orion op TV - daar's ook nou 'n video-uittreksel om te sien.

Die Storie Agter Die Storie:

Twee maande voor Orion se uitreiking in 1999, het Deon geskryf:

Orion

"Ek was maar baie benoud met die konseptualisering en skryf van Orion - die relatiewe sukses van Feniks het groot druk veroorsaak om 'n boek te skryf wat minstens net so goed ontvang sou word.

"Waar kom Orion se storie vandaan? Soos met die vorige romans, is dit 'n uitbouing van 'n klein konsep: In hierdie geval was dit die interessante inligting wat ek raakgeloop het oor die SA Wermag en die CIA se samewerking om Unita destyds in Angola te steun. En as ek meer as dit sê, bederf ek dalk die hele spannings- en onthullingslyn van die boek.

"Agtergrondnavorsing is altyd een van die lekkerste dele van stories skryf. Dié keer het ek die geleentheid gehad om meer te leer van Unisa se Departement Polisiekunde, die Recce's (Een Verkenningseenheid van die SAW), dwelmhandel in Suid-Afrika en die opleiding van ANC-soldate tydens die Struggle.

"Maar om dit alles geloofwaardig in 'n boek op te neem, lol maar altyd. Hoewel die basiese dinge op feite gebaseer is, was dit onmoontlik om alles presies by die historiese en chronologiese gegewe te hou. Soms moet 'n mens kies wat belangriker is: absolute realisme, of die storie. Ek glo aan die "skyn van waarheid" wat die verhaal eindelik moet laat werk."

Die Intrige:

Hulle kom haal vir oudpolisieman Zatopek van Heerden uit die selle, gisteraand se drink en baklei nog bitter in sy mond. Nou moet hy die asse van 'n dooie ondersoek wegblaas op soek na 'n kooltjie wat nog gloei: 'n Middelklas-meubelhandelaar is in sy voorstedelike middelklashuis met 'n blaasvlam gemartel en toe met 'n M16 doodgeskiet. Een skoot; agterkant van die kop. Laksmanstyl.

Hy het sewe dae om dié moord op te los en 'n testament te vind, vir 'n vroueprokureur wat met sy kop neuk. Asof hy dit nodig het - sy kop is deurmekaar genoeg, dankie.

En dié ding is boonop tien maande oud, die spore vaag, die enigste leidraad 'n stukkie papier waarmee hulle te lank gelede dollars toegedraai het. Miskien báie dollars.

En wanneer alles skielik ontvlam, is daar snaakse gediertes wat uit die vuurlig probeer skarrel: Militêre Intelligensie, die CIA, Moord en Roof, georganiseerde misdaad op die Kaapse Vlakte. Hoe dieper hy delf, hoe meer lae hy van dié ding afkrap, hoe meer smeer hulle toe.

Tot die jagter die prooi word en daar meer is wat hom jaag as net sy eie, stink verlede.

Die Resensies:

  • "Deon Meyer lyk maar so onskuldig op die omslag ... in daardie kop broei van die beste misdaadstories in Afrikaans uit. Stories wat hulle wortels so stewig in Suid-Afrika en sy ou bose, bisarre geskiedenis het; in die hier en nou van 'n Nuwe Suid-Afrika (en Kaapstad in besonder), dat die leser met 'n hap nodige lug en 'n sluk rooi wyn vir krag net 'n wyle hom daaraan verwonder voordat hy weer sy oë laat voortskeer oor die blaaie.

    " ...Orion het ek toegemaak met 'n gevoel van intense bevrediging. Moenie weer kom sê daar is nie speurromans wat vergelyk met die bestes uit Europa of Amerika nie. Daar is. Boonop is hierdie een van die mooiste boeke wat ek nog in my hand gehou het. Komplimente aan die uitgewers."

    - Die Volksblad, 30 Oktober 2000

  • "Laas in Tom Wolfe se Bonfire of the Vanities was daar so 'n treffende dronk-opstaan-toneel met die Britse joernalis Peter Fallow en sy ontploffende telefoon!

    "... jy bly voel jy is in die hande van 'n bedrewe storieverteller. Hierdie soort toeganklikheid (eintlik 'n nuutjie in Afrikaans) kan maar net deur die gewone leser verwelkom word.

    - Rapport, 15 Oktober 2000

  • "In hierdie geskakeerde verhaal wissel humor, spanning, geweld en romanse mekaar blitsig af. Dit alles geskied teen die agtergrond van 'n parallelle vertelling - 'n intellektuele briefteks wat die hoofkarakter as onderwerp neem en plek-plek as prettige metateks dien ...

    "... die aandag aan detail, die sterk, byna filmiese teks en die universaliteit van die puik spanningslyn maak van Orion 'n leeservaring uit die boonste rak."

    - Insig, Oktober 2000.

  • Met Orion, soos met Feniks, vul Deon Meyer ’n groot en belangrike leemte in die Afrikaanse boekemark — dié van die intelligente speurverhaal. Beslis die moeite werd om te lees!

    - Litnet

  • "Deon Meyer is op dreef . . . die held in Orion is hoogs intelligent, hoogs aantreklik en hoogs beneuk. Die meisies is hoogs intelligent, nie almal so aantreklik nie en een het ietwat ongewone seksuele smake. Die skurke is skrikwekkend, die verhaal gekompliseerd en spannend . . . ek het die boek soos 'n luislang verorber en besluit Meyer skryf te min om my lus te bevredig."

    - Madeleine van Biljon: