Onsigbaar

Video: Lemmer se huis

video

Die huis wat Lemmer so hard besig is om op Loxton reg te maak, bestaan regtig (al behoort dit in werklikheid aan iemand anders). Ons het die plek spesiaal gaan afneem - saam met 'n paar kort tonele om vir jou ook te wys hoe die dorp lyk.

As jy wil loer en sommer meer oor die boek wil weet, KLIK HIER!.

Die Storie:

Lemmer se Eerste Algemene Wet: Moenie betrokke raak nie.

Fotogalery

Hy pas dit veral toe in sy werk as vryskut-lyfwag by Body Armour, waar hy laag af is op die pryslys, want hy's die een met die kriminele rekord, die gebrekkige sosiale vaardighede en die baie kort humeur.

En wanneer die mooi, ryk Emma le Roux hom huur en begin vertel van onwaarskynlike bedreigings en 'n broer wat sy vas glo ná twintig jaar soos 'n Lazarus uit die dood uit opgestaan het, stof hy ook 'n ander ou Wet af: Moenie klein vroue vertrou nie.

Maar wat, welvarende mense lieg en as dit al gevaar is wat hy moet hanteer, dan vat hy die geld, baie dankie.

Daarom vlieg hy op 26 Desember saam met haar Laeveld toe - en sien hoe sy die windmeule van haar verlede sonder sukses bestorm. En al moet hy erken dat sy deursettingsvermoë het, dat sy nie te onaangenaam is vir 'n ryk mens nie, wil hy asseblief tog klaar kry en terug gaan Loxton toe om sy huis te gaan regmaak.

Maar dan lei hulle vir hom en Emma in 'n lokval, en in die chaos van vlug skiet hulle haar. Lemmer het nog nooit gefaal as 'n lyfwag nie. En hy besef hy gee dalk meer om vir die kleine Emma as wat hy wou erken.

Teen sy beterwete en elke wet wat hy oor veertig jaar gekonstateer het, begin hy krap. En onder die rasse- en politieke spanning, agter die ekologiese oorlog, die gierigheid en die korrupsie kry hy geheime wat iemand ten alle koste wil bewaar. Om hulle te identifiseer gaan lewensgevaarlik wees, om hulle te ontmasker kan internasionale implikasies hê.

Onsigbaar

Maar Lemmer is siek en sat daarvoor om onsigbaar te wees. Iemand moet betaal - en hy gaan nie rus voor dié rekening nie vereffen is nie.

Die Resensies:

  • Meyer is bekend vir sy spanningsverhale. En soos dit ’n goeie storie betaam, bevat dit Onsigbaar altyd verskeie elemente wat van ’n boek ’n treffer maak.

    Onsigbaar is geen uitsondering op die reël nie en die verhaal is propvol aksie en intrige met ’n verhaal agter dit alles wat die leser se hart sal aangryp.

    Meyer het ’n vermoë om verskillende aspekte van ’n storie deur mekaar te weef totdat hy ’n storie met ongekende diepte en rykheid op die (boeke)tafel plaas. Een kernaspek wat deurlopend in sy boeke verskyn, is ’n hoofkarakter wat sterk voorkom, maar eintlik ’n weerloosheid het, wat hom aanloklik maak vir die leser ...

    ... Gelukkig vir my sielevreugde, verloop Onsigbaar teen ’n logiese progressie sodat die leser aan die einde van die boek kan vrede maak met die verhaal se uitkoms.

    - Corli van der Merwe, Die Volksblad.

  • Jy kan maar weet. As jy ’n Deon Meyer optel, is jy in vir ’n paar lang nagte met min slaap en blou sakke onder die oë by die werk.

    In ’n genre wat in Afrikaans nog grootliks afgeskeep is – benewens genadiglik enkele goeie nuwe stemme wat onlangs gedebuteer het – het hy oor die afgelope dekade sy stempel deeglik op die spanningsverhaal afgedruk.

    In hierdie, die eerste keer dat sy protagonis se stem in die eerste persoon gelees word, brei Meyer sy oeuvre ontsagwekkend uit ...

    ... Die einde in Onsigbaar jaag wel te snel op die leser af. Dit is uiteraard kompleks, maar met tye onvergenoeglik vereenvoudig vir die leser en maak dit dan dalk oënskynlik te maklik.

    Waarvoor dit wel sorg, is die vraag na ’n opvolgboek, iets in die lyn van die Jason Bourne-reeks? Die leser voel dat die sowat 400 bladsye eenvoudig nie genoegsaam is vir die spektrum van die volle verhaal nie.

    Volgens hierdie leser, egter, Meyer se beste boek tot dusver.

    - Ronel Nel, Beeld

  • LEMMER. Die naam laat jou sommer weet dis nie iemand met wie jy wil skoor soek nie.

    Onsigbaar

    Dis een van die dinge wat nooit in een van Deon Meyer se boeke teleurstel nie. Die name van sy karakters is altyd meer as net toevallig. Hoe hy daaraan kom, is waarskynlik ’n storie op sigself.

    Dan is daar altyd die bagasie wat elke karakter met hom saamdra. Hulle is so menslik, so ver van superhelde af, dat jy onmiddellik met hulle kan identifiseer.

    Verder is daar die terloopse stukkies wysheid wat ingewerk word. In Orion was dit byvoorbeeld die moederlike raad wat Zatopek oor die liefde gekry het. Hierdie keer is dit die wette wat Lemmer vir ­homself uitgewerk het oor vertroue, ­betrokkenheid en klein vroue.

    ’n Mens lees Meyer se boeke in die ­eerste instansie omdat hy ’n lekker storie kan vertel en omdat hy onder die vel van skurk en held kan inkruip. Meer as een keer het hy al met ’n paar sinne ’n ongure karakter vir jou mens gemaak.

    Die ander aspek wat die leser waardeer, is die deeglike navorsing wat hy doen oor aspekte wat hy aanraak. Inligting wat in enkele sinne verskaf word, het waar­skynlik verskeie bronne en baie ure van navorsing vereis. Neem byvoorbeeld die ondersoek wat Lemmer moet doen oor ’n sluipskutter. Hier word alles bespreek van posisies wat die skut moes ingeneem het en die manier waarop die doppies herwin word, tot die invloed wat die wind sou hê. Dis toevallige besonderhede vir die leser, maar waarskynlik tot op die laaste letter korrek en verstaanbaar vir mense met kennis van hierdie sake.

    Die agtergrond wat hierdie keer verskaf word oor die werk wat met aasvoëls ­gedoen word, maak jou belangstelling gaande. As deel van ’n speurverhaal ­prikkel dit jou belangstelling meer as wat ’n blote nuusberig sou gedoen het.

    Onsigbaar isSuid-Afrikaans tot op die been. Die weermag steek weer sy donker tentakels uitom onskuldiges te wurg. Die steeds teenwoordige rassisme, aggressie en agterdog steek oral kop uit. Meyer maak dit deel van die storie sonder om dit te verdedig of te kritiseer. Die karakters se optrede spruit dikwels uit die (nood)lot wat hulle Suid-Afrikaners gemaak het.

    Dis nie nodig om enige van sy speur­verhale met agtergrondkennis te lees nie.Jy kan maar net lees, verstrik raak in komplotte en jou in die spannende ontknoping van alles verlustig. Geen drade hang los nie, geen soom rafel uit nie. Die legkaart maak sin wanneer die laaste stukkie inpas. Presies wat ’n goeie spanningsverhaal moet bied.

    - Mariana Malan, Die Burger