Karoonag

Sewe spannende stories. En raai wie's terug:

Lemmer se Eerste Wet: Moenie Betrokke Raak Nie.

En hy moes daarby gehou het toe hulle in die stikdonker aan sy voordeur kom hamer het. Maar toe staan hy op, vat sy Glock 37 onder die bed raak en foeter met sy nuwe Ford Ranger die godverlate veld in. Want daar was ‘n plaasaanval, en as hy help, is dat dalk een stappie nader aan aanvaarding op Loxton. Wat hy so graag wil hê.

En nou? Nou het ‘plaasaanval’ ontvoering geword. Nou jaag hy soos ‘n besetene om ‘n skadumag te konfronteer, om driehonderd mense se lewens te red.

Met ‘n sekere wete dat die bloed vryelik gaan vloei voor hierdie Karoonag verby is.

Klik hier om die eerste resensies te lees.

Die verhale:

Karoonag

Deon se eerste verhaalbundel sedert 1997 verskyn nou, met ses sensasionele kortverhale en 'n novella. Jy kan ook uitsien na:

  • Stiltetyd:

    Supt. Johnnie October is nou 'n klerk, 'n ou leeu sonder tande by die Provinsiale Taakmag se dokumentesentrum. Tot die vreemde brief opdaag. Met die knipsel van 'n fratsongeluk. En 'n nota daarby. "Dit was geen ongeluk nie. Dit was moord."

    (Stiltetyd het in 2008 as vervolgverhaal van twaalf hoofstukke in Die Burger verskyn.)

  • Die Perfekte Moord

    Dit wil lyk na selfmoord. Speurder-inspekteur Bennie Griessel kry die stapeltjie klere op die strand, en die twee dokumente. Die eerste is 'n bekenning van moord. Die perfekte moord. Maar Bennie vermoed al hoe meer dat niks is soos dit lyk nie.

  • Die Nostradamus-dokument

    Natalie Fortuin staan langs haar deurmekaar lessenaar, 'n mooi vrou tussen hoë staalrakke. Sy knoop haar bloes stadig en doelbewus oop. Sy gee 'n tree vorentoe en leun teen hom aan en sê in haar heuningstem “Jy’s mooi groot, Dekker ...”.

    En dan skiet hulle haar uit Inspekteur Fransman Dekker se arms uit. En hy weet hy is in die moeilikheid. Groot moeilikheid.

  • Verslag oor 'n Verdwyning

    1947. Botrivier. Muller moet 'n verslag kom skryf oor die jong konstabel wat verdwyn het. Klaarblyklik gedros, kon nie die wink van die stadsliggies weerstaan nie.

    Maar dié klein, stil dorpie het vreemde geheime. En een daarvan is die beeldskone Millie, wat saans so skouspelagtig voor die oop venster uittrek ...

  • Die Skoen in Maria

    Inspekteur Ferdinando Adornato van Milaan se Reparto di Giustizia, die Departement van Justisie, moet die moord op die mooi jong model ondersoek, die een wat met die skerp hak van die ontwerperskoen in haar oog gekry is. Hy is 'n lelike man in 'n wêreld vol skoonheid. Niemand wil praat nie, want almal is skuldig. Op die een of ander manier.

    Almal.

  • Die ontvoering van Leendert le Roux

    Daar is iemand in haar huis.

    Vieruur in die môre is die slaap ’n diep, swart poel waaruit Sarah le Roux desperaat opspartel na bo, na die lig. Sy dwing haar oë oop, haar brein half-wakker. Haar een been wil al van die bed afswaai, maar dit is te laat.

    Hulle is hier, in haar kamer.

Die Resensies:

  • Chris van der Merwe in Rapport:

    As jy soek vir Kerspresente, moet jy nie by die nuwe Deon Meyer verbyhou nie. Waar hy in die verlede veral met sy romans naam gemaak het, het ons hier ’n aantal kortverhale en een lang-kortverhaal, “Stiltetyd”.

    Elke verhaal in Karoonag en ander verhale word gevolg deur ’n nawoord, wat ’n verskeidenheid vorms aanneem, maar meestal meer vertel van die inligting oor die skryf van die betrokke verhaal. Op hierdie manier word ’n persoonlike verhouding tussen skrywer en leser geskep, byna asof die skrywer gesellig met die leser verkeer. Kostelik is veral die nawoord by “Stiltetyd”, waar ’n denkbeeldige onderhoud gevoer word met Pearly, een van die verhaalkarakters, eienares van die restaurant Kaapse Kos, wat die leser inlig oor Maleise eetgoed soos fancies, sabanang, boeber en kabobs.

  • Suzanne Bezuidenhout op Litnet

    In Karoonag en ander verhale bewys Deon Meyer dat hy in die bestek van ʼn kortverhaal die leser met dieselfde intensiteit, aksie en spanning kan vermaak as in sy langer speurromans. Terwyl lesers op hete kole wag vir sy volgende speurroman, is dié kortverhaalbundel net die regte leesstof om die Sherlock Holmes, of dalk eerder die Bennie Griessel, in jou aan te wakker.

  • Adéle Dempers in Die Volksblad

    Lesers met ’n sagte plekkie vir speurder-kaptein Bennie Griessel, een van die protagoniste van Infanta, sal bly wees om te hoor hy is nou 34 dae sonder alkohol al voel hy nog “die dranklus wat ontluik soos ’n skaam minnares” (bl. 39). Hy moet in Die perfekte moord sin maak van ’n selfmoordbrief wat vreemde bekentenisse bevat en hy kry hond se gedagtes.

    En Lemmer van Onsigbaar is ook terug in die verhaal Karoonag waarin ’n plaasaanval ’n onverwagse wending neem en ’n internasionale geur kry. Dis ’n lekker skop-skiet-en-jaagstorie en die arme Lemmer skryf sy splinternuwe bakkie af omdat hy Lemmer se Eerste Wet oortree: Moenie betrokke raak nie...

    Só maak verskeie ander geliefde karakters weer hul buiging.

  • Adéle Dempers in Die Volksblad