Infanta

My naam is Benny Griessel en ek is 'n alkoholis," sê hy.

Fotogalery

"Hallo, Bennie," sê die twee-en-dertig stemme in 'n blymoedige koor.

"Ek het gisteraand 'n bottel Jack Daniels uitgesuip en my vrou geslaan. Sy het my vanoggend uit die huis uit gesit. Ek is nou een dag sonder drank. Ek is hier omdat ek nie my drinkery kan beheer nie. Ek is hier omdat ek my vrou en my kinders en my lewe wil terughê ..."

Maar om sy lewe terug te kry ...

Infanta

...moet speurder-inspekteur Griessel van die Ernstige en Geweldsmisdaad-eenheid eers vir Artemis keer: Die vigilante wat die doodstraf teruggebring het, wat besig is om misdaad teen kinders met 'n lang lem en 'n skrikwekkende meedoënloosheid te wreek.

En met die media wat skree, die politici wat druk toepas, 'n span onbeholpe jong speurders en verskeie kollegas wat hom in die rug steek, stel Bennie Griessel 'n lokval.

Maar hy het nie rekening gehou met die liefde van 'n sekswerker vir haar kind, die haat van die Sangrenegro-dwelmkartel en sy eie smagting na die helende kragte van die bottel nie.

Die resensente het gesê:

  • Deon Meyer se Infanta bevestig die baasskap (om 'n ou politieke term in 'n aantrekliker konteks te gebruik) van dié Afrikaanse spanningsverhaalskrywer. Soos sy voorgangers (Feniks, Orion en Proteus) is Infanta 'n kragtoer wat die leser stormenderhand verower en bewys dat Meyer internasionaal in die top-kategorie van spannings- of speurverhaalskrywers hoort, saam met Le Carré, Rankin, Rendell en P.D. James.

    Moontlik die een faktor wat die groot spanningsverhaalskrywers wat hierbo genoem is, onderskei, is sielkundige kompleksiteit van karakter en intrige. Karakters is nie alleen geloofwaardig nie, maar betrek die leser op 'n persoonlike vlak.

    Infanta vervleg verskillende storielyne: Griessel se speurtog, die moordenaar se vergeldingstog, die lot van 'n prostituut wat met 'n dwelmhandelaar deurmekaar raak - alles gekenmerk deur 'n fyn, sielkundige aanslag wat die leser boei, raak, ontstel, soms bewoë laat.

    - Andries Wessels, Die Burger.

  • Meyer se boeke oorbrug daardie pretensieuse skeidslyn tussen sogenaamde ligte(!) leesstof(!) en letterkunde. 'n Skeidslyn wat probeer impliseer dat goeie skryfwerk net in laasgenoemde geval tel.

    Maar dit is weer eens 'n meesterlike speurtog na die siel. Wanneer kom die volgende een? Asseblief?

    - Andries Gouws, Litnet

  • Binne enkele minute is die leser so vasgevang soos 'n vlieg in 'n spinnerak in die spannende wêreld van Deon Meyer wat met elke nuwe boek 'n trappie hoër klim, al hoe meer meester van sy vak en ongetwyfeld tans die Afrikaanse eweknie van die sogenaamde grotes in die genre soos Ian Rankin, Henning Mankell of Michael Connelly.

    - Madeleine van Biljon, Beeld

  • Dit is 'n skitterende speur-, misdaad- en polisieverhaal; ook 'n spanning- en aksieverhaal van die hoogste orde. Wat die roman egter veral laat uitstyg, is die grondige dieptestudie van die sielkundige dryfvere van al die hoofkarakters.

    - Stoffel Cilliers, Die Volksblad

  • Griessel se ontdekking in Infanta dat hy eintlik van presies dieselfde stoffasie is as Tobela, die assegaai-moordenaar, is werklik 'n meesterlike skrywersprestasie.

    Soos Tobela doen Griessel uiteindelik "wat almal eintlik graag sou wou doen", dit wil sê om kindermishandelaars te behandel op 'n manier waarvoor die formele strukture van reg en geregtigheid nie meer ruimte of kapasiteit het nie.

    Lees maar self om uit te vind hóé. Dit is 'n moment in die teks wat op dieselfde vlak staan as soortgelyke momente in "ernstige" elite-letterkunde.

    Ook op ander vlakke vertoon Infanta tekens van 'n skrywer wat hom nog ernstiger bemoei met sy medium as voorheen. Veel meer aandag word bestee aan die uitdieping van die psigiese kante van karakters, veral dié van Bennie Griessel en die prostituut Christine. Dit is ook asof daar meer aandag geskenk word aan die "realistiese" inkleding van die agtergrond waarteen die gebeure hulle afspeel, onder meer deurdat kommentaar gelewer word op die eietydse Suid-Afrikaanse samelewing.

    - Philip John , Rapport