
Feniks
![]()
"Om op te som: humor, aksie, seks, intrige, geweld en spanning... uitgevoer met 'n intellektuele aanslag wat byvoorbeeld aspekte van die sielkunde en musiek met gesag betrek, maar steeds die groot voël by sy naam noem as dit nodig is. Dis heerlike, volwasse leesstof."
- Die Burger
Die Storie Agter Die Storie:
Feniks se werkstitel was aanvanklik "Die Nostradamus Dokument": Dit sou 'n storie wees oor 'n waardevolle Middeleeuse dokument wat deur die toekomsvoorspeller self geskryf is (en verduidelik hoe hy die toekoms kan insien) en vandag op die solder van 'n Franse Hugenoot-afstammeling lê en stof vergader. Tot redelike rowwe ouens met finansiële gewin as doelwit daarna begin soek.
Vir dié intrige het ek 'n karakter nodig gehad wat 'n sekere mate van fisieke geweld moes kon hanteer - iemand soos 'n Moord en Roof polisieman.
Mat Joubert is gebore, maar het gou sy eie stempel op die storie afgedruk en eindelik geen plek gelaat vir die Nostradamus-dokument nie. Miskien is dit maar 'n goeie ding.
Hoewel ek heelwat navorsing vir Wie met Vuur Speel, my eerste roman, gedoen het, moes ek met Feniks aansienlik dieper gaan krap, veral by die Suid-Afrikaanse Polisiediens, om die karakters en gebeure geloofwaardig te hou.
Dead Before DyingDie mense van Moord en Roof in Bellville, veral die destydse kaptein Peter Lister en Adjudant Jeff Benzien, het baie van hul kosbare tyd afgestaan om eindelose vrae te beantwoord. Ook die Departement Geregtelike Geneeskunde van die UOVS se Mediese Fakulteit het talle briewe en fakse beantwoord om my feite aan die regte kan van die waarheid te hou.
Feniks was vir my persoonlik 'n waterskeidingsboek: dit het, danksy die goeie raad van Danie van Niekerk (voormalige redakteur van Boekewêreld), die briljante vertaling van Madeleine van Biljon en die harde werk van Isobel Dixon, my agent in London, 'n uitgewer in Brittanje gekry (Hodder & Stoughton) en is intussen ook in Frans, Spaans, Roemeens, Duits, Nederlands, Italiaans, Tjeggies en Bulgaars vertaal.
Litnet het gesê:
Met sy eerste roman, Wie met vuur speel, het Deon Meyer skynbaar sy gebied afgebaken: dié van die spanningsverhaal in Afrikaans. Sy jongste boek, Orion, wat verlede jaar verskyn het, is ’n absolute treffer. Maar hier, waar dit handel oor top-romans uit die negentigerjare, wil ek sy tweede boek, Feniks, betrek — ’n meesleurende polisieroman wat sowel ontspanningslektuur as ernstige literatuur is.
Die hoofkarakter in Feniks is kaptein Mat Joubert van Bellville-Suid se Moord- en Roofeenheid. Hy het die regte naam gekry, want kaptein Mat Joubert is afgemat. Sy vrou is oorlede (die leser weet nie presies hoe sy dood is nie, maar ’n mens kom agter dat dit ’n verskriklik traumatiese gebeurtenis moes gewees het), hy het belangstelling in sy werk verloor, en hy is oorgewig en onfiks en lewensmoeg.
Op hierdie laagtepunt is sy lewe word ’n nuwe hoof deur regstellende aksie bo hom aangestel, kolonel Bart de Wit, en hy waarsku vir Mat om hom reg te ruk. Hy gee aan Mat twee uiters moeilike sake om op te los. In die eerste plek is daar ’n reeks bankrowe, almal op dieselfde bankgroep, met die skuldige wat telkens in ’n ander vermomming verskyn; en in die tweede plek die moorde deur ’n geheimsinnige reeksmoordenaar wat met ’n antieke Mauser die een slagoffer na die ander neervel.
En so ontwikkel ’n konflik wat Mat op verskeie fronte moet veg — ’n konflik teen sy hoof wat vir hom ’n bedreiging is; ’n konflik met die misdadiger of misdadigers wat vir die bankrowe en die Mauser-moorde verantwoordelik is; maar bowenal ’n konflik met homself om homself te rehabiliteer — om die traumas van die verlede te verwerk, om sy lewenslus te herwin, en om ’n wenner in plaas van ’n verloorder te word.
Hierdie persoonlike herstel is die eintlike tema van die roman. Dit titel Feniks suggereer dit al — Mat Joubert worstel om te wees soos die feniks, die mitologiese voël wat uit die as herrys. Sy stryd teen die misdadigers vorm ’n simboliese parallel met sy eie stryd om genesing. Hierdie dubbele stryd van hom word mooi met die volgende woorde beskryf:
"Elke saak, elke dossier is soos om ’n krans uit te klim. Soms is die vashouplek, die trapplek maklik en jy vorder vinnig tot bo by die kruin, waar jy die lasbrief oorhandig, ’n netjiese pakkie van motief en bewysstukke, oorsaak en gevolg. Maar soms, soos dié een, is die krans glibberig en glad, sonder skeure waar jy voete en hande kan inwikkel. Jy klim en jy gly, klim en gly sonder vordering, sonder ’n pad na bo" (p. 244).
Mat Joubert se stryd om herstel word gespieël in ander karakters, soos byvoorbeeld speurderadjudant Bennie Griessel, wat met ’n groot drankprobleem te kampe het wat sy gesinslewe verwoes. Bennie Griessel kry die ondersoek na die bankrowe as sy verantwoordelikheid; ook sy stryd teen misdaad is nóú verbonde met sy eie persoonlike stryd. Selfs die skynbaar ongenaakbare hoof, Bart de Wit, is betrokke by ’n proses van persoonlike groei; wanneer hy van sy troon afklim, en sy masker van “altyd in beheer van die situasie wees”, laat val, dan word hy mensliker en genadiger. En dan is daar nog ’n karakter wat besig is met die verwerking van ’n groot trauma uit die verlede. Maar hierdie aap mag ek nie uit die mou laat nie.
Die roman Feniks kan as ’n gids vir die genesing van ’n trauma gelees word. Die belangrikheid van konfrontasie van die traumas van die verlede word beklemtoon; die noodsaak om met iemand daaroor te praat, hoe pynlik dit ook al is. Verder word die alomteenwoordigheid van menslike skuld gesuggereer; dat dit tot allerlei psigiese stoornisse lei as die mens hom- of haarself moreel wil regverdig, en al die skuld op ander pak, as jy self die rol van morele regter en laksman wil opneem. Want almal is besmet, en almal het behoefte aan mededoë en vergiffenis. Vervolger en misdadiger is nie so verskillend van mekaar nie.
Die skrywer, Deon Meyer, het in ’n radio-onderhoud vertel hoe hy met die polisie saamgewerk het terwyl hy besig was om hierdie roman te skryf. Sodoende het hy baie van die werk van die polisie geleer, en het hy ’n roman geskryf wat nie ’n karikatuur van die polisiemag en van hul werk maak nie. Ons het in die Afrikaanse literatuur baie soorte uitbeeldings van die polisiemag gehad; in die sewentiger- en tagtigerjare meestal ’n negatiewe uitbeelding. Miskien is dit ’n teken van die volwassenheid wat ons nou bereik het dat polisiemanne nie meer verheerlik of afgekraak hoef te word nie. Die polisiemag is maar eintlik ’n mikrokosmos, en jy kry van alle soorte daarin, die goeies, die slegtes, en veral dié tussen-in.
Met groot simpatie word die moeilike lewe van die polisieman weergegee: die geestelike krisisse wat veroorsaak word deur hul daaglikse omgang met misdaad en die dood. Een van die polisiemanne stel sy saak soos volg vir Mat Joubert:
Here, kaptein, daar is net só baie moeilikheid. My vrou ... My vrou wil my los. Sy sê ek is nooit by die huis nie. Sy sê my dogters het ’n pa nodig. Sy sê ’n stiefpa wat by die huis is, is beter as ’n bloedpa wat hulle nooit sien nie. En sy sê daar is in elk geval nooit geld vir niks nie. Jy werk soos ’n executive en jy pay soos ’n gardener, sê sy (p. 176).
En Griessel, die polisieman met die drankprobleem, kla soos volg:
Mat, ek droom in die nag. Ek droom dit is my kinders wat dood lê. En my vrou. En ek. Met bloed teen die mure en AK-skote deur die kop of derms wat op die vloer uitloop. Hulle kan dit nie wegvat nie, Mat. Ek droom, al is ek nugter. Al drink ek nie ’n druppel nie (p. 82).
Maar dit is nie net ’n boek oor traumas en probleme nie; dit is veral ’n boek wat heerlik lees, met ’n skrywer wat skitterend daarin slaag om jou belangstelling van begin tot end lewend te hou deur die verstrengeling van ’n hele aantal spanningslyne. Daar is spanning by die leser oor wat presies met die vrou van Mat Joubert gebeur het — hoe het sy gesterf? Dit word met allerlei ander vrae verweef: Gaan Joubert die misdadigers vind? Wie is vir die bankrowe verantwoordelik? En: Wie het die Mauser-moorde gepleeg? Is dit dieselfde persoon? Verder: wat gaan met Mat Joubert se persoonlike stryd gebeur? Gaan hy die verlede kan verwerk? Gaan hy weer ’n verhouding met ’n vrou aanknoop? Gaan hy ’n sukses of ’n mislukking wees?
Met meesterlike vakmanskap wissel die skrywer die verskillende spanningsdrade af, breek die verhaal telkens op ’n spanningshoogtepunt af, stel dit uit om die inligting te gee wat die leser verlang, lok jou uit, mislei en verras jou voortdurend. Uiteindelik bied hy ’n ontknoping wat miskien nie almal sal bevredig nie, maar sekerlik almal sal verras.
Saam met die volgehoue spanning is daar die humor wat die plesier van die leser verhoog. So is daar byvoorbeeld die polisie-offisier wat Engels op die TV moet praat:
"What I can tell you, are that the investigating officer, captain Mat Joubert, have as many policemen at his disposal as he needs” p. 165).
Dis ’n herkenbare hedendaagse werklikheid wat in die roman opgeroep word — met misdaad en regstellende aksie; met Engels op die TV; met roof, verkragting en moord, en die Suid-Afrikaanse polisie wat in die hitte van die stryd staan. Lesers wat die Kaap ken, sal ’n hele paar keer die omgewing kan herken. Ook “Premier Bank”, die bank waar die bankrowe plaasvind, kom bra bekend voor:
"Vir die gewone kliënt is daar Robyn-plan, die ligpers en grys tjekboek met die afbeelding van ’n rooi edelgesteente daarop. Dié met ’n hoër inkomste en meer skuld kwalifiseer vir Smaragplan — en ’n groen steen. Maar dit waarna Premier wil hê al sy kliënte moet streef, is Diamantplan" (p. 16).
Dis ’n wêreld dié waarmee die hedendaagse leser kan identifiseer.
Feniks is 288 bladsye van louter genot. As daar nie ’n draaiboekskrywer en ander kundiges is wat hierdie boek omwerk tot ’n film nie, dan is iemand êrens baie dom.
- Chris van der Merwe
