
Bottervise in die Jêm
Dié boek is Deon se enigste kortverhaalbundel, hoewel van sy meer onlangse kort spanningsverhale in ander bundels (met meer as een outeur) verskyn het. Deon sê hy sal graag weer eendag 'n bundel wil uitgee, maar die skryf van boeke en draaiboeke hou hom op die oomblik te besig.
(Besig is 'n relatiewe begrip. Daar's blykbaar altyd tyd vir motorfiets ry - Webmeester.)
Die Storie Agter Die Storie
Soos die meeste aspirant-skrywers, was ek maar baie onseker oor my vermoë om my werk verkoop te kry. (En as ek heeltemal eerlik moet wees: die vrees dat my stories totale mislukkings kan wees, dra ek steeds saam.)
Hier teen 1990 het die drang om fiksie te produseer te groot geword en het ek besluit om eers met 'n kortverhaal of wat die mark te toets.
Ek het Die Ongewensde Indringer geskryf, herskryf en weer geskaaf en aan Bennie Fritz by Huisgenoot gestuur. 'n Week of wat later het sy briefie teruggekom. "Nie te vrot nie, maar in Afrikaans werk die verlede tyd nie goed nie. Herskryf die storie in die teenwoordige tyd en ons kyk weer."
Ek het so gemaak en Bennie het die storie gekoop. (Ek is so baie aan Bennie Fritz, Esmé Mittner van Sarie en ander tydskrif-verhaalredakteurs verskuldig. Hulle was almal erkende skrywers in eie reg, maar nooit suinig met raad en ondersteuning nie.)
"Dis darem nie te moeilik nie," was my reaksie en ek het dadelik nog 'n kortverhaal probeer. Nie Bennie of enige ander Afrikaanse tydskrif het belang gestel nie (en my skrywersego het weke lank gely …)
Ek het stelselmatig die mark leer ken - watter tydskrifte watter soort stories verkies. Kortverhale het my geweldig baie geleer oor die skryf van fiksie, die struktuur van stories en die dissipline van skryf in die algemeen. En latere suksesse het my genoeg selfvertroue gegee om 'n eerste roman aan te durf.
Tydskrifverhale het ook skryf-blaaskanse geword tussen die harde werk aan spanningsverhale. Dit het elke keer groot genot verskaf om een van dié ligte stories klaar te maak. Bottervisse in die Jêm was 'n kortverhaal wat heelwat positiewe reaksie ontlok het na dit in Sarie en ook 'n J.P. van der Walt-bundel (met 'n verskeidenheid van skrywers se werk daarin) verskyn het.
J.P. van der Walt-uitgewers (die voorlopers van wat vandag as LAPA bekend staan) het kort daarna (1996) aangebied om al my tydskrifverhale in 'n bundel uit te gee - 'n stap waarvoor ek hulle ewig dankbaar sal bly en Bottervisse het in 1997 verskyn. (Om twee keer betaal te word vir dieselfde stories was net een van die lekker ervarings rondom dié boek!)
- Die naam "Zatopek" het vir die eerste keer in my kortverhale opgeduik. Dié karkater het 'n lang geskiedenis voor hy die protagonis in Orion geword het. Daar was ook 'n 'Zatopek' in Wie Met Vuur Speel ...
Terloops, die foto links is van die heel eerste uitgawe van die bundel.