13 Uur

Griessel in gevaar:

Speurder-inspekteur Bennie Griessel is nugter. Een-honderd-ses-en-vyftig dae al. Maar die oproep wat hom wakker maak is die begin van 13 uur van 'n dag wat hy dalk nie gaan oorleef nie - en hom meer as een keer na die bottel wil laat gryp.

Fotogalery

13 Uur: Foto-Bonus

As jy wil weet hoe die wêreld van Bennie Griessel in '13 Uur' lyk, klik gerus hier vir foto's en interessante inligting ...

Die Resensies:

  • Mariana Malan in Die Burger: "Deon Meyer skep ’n speelpark vir lesers. Wipplank op en af, swaai en rondomtalie in gebeure en zirts dan met die glyplank af in pure leesgenot. 13 Uur is nie te resenseer nie. Jy wil net oorvertel hoekom jy dit so geniet het.

    "Maar eers jaloesie bely. Dat hy juis die musiekbedryf as onderwerp moes kies, maak my effens gelerig. As jy dié bedryf se mense, skinderstories en intriges ken, wonder jy hoekom jý dit nie bedink het om ’n vernuftige speurverhaal daarom te bou nie.

    "Maar juis omdat jy dit ken, geniet jy dit te meer. Daar is soveel “bekendes” dat jy nie kan help om te glimlag nie. Divas met drankprobleme, mans met meer hande as verstand, gospelsangers met verledes en sangers met ego’s is, nou ja, nie net fiksie nie.

    "Dít is maar een van die twee verhale wat inmekaar geweef is via die betrokkenheid van die speurder Bennie Gries sel. Die ander is die moord op ’n toeris van die VSA, die genadelose gejag van ’n ander. Dis so spannend dat die leser soms lus is om dié hele deel in een asem te lees en later terug te keer na die ander. Dit verg selfbeheersing om dit nie te doen nie.

  • Gert van der Westhuizen in Beeld:

    "Eintlik is dit nie nodig om ’n resensie van 13 uur te skryf nie.

    "Dit is immers Deon Meyer se sewende roman en sy boeke word lankal in ander tale as Afrikaans elders ter wêreld verslind.

    "Vir Deon Meyer-junkies, soos Michael Connelly, behoort die boodskap dié keer eenvoudig te wees: 13 uur is beskikbaar, dit maak nie saak wat dit kos nie, gaan koop dit net en sit ’n dag of twee opsy om dit te lees.

    "Julle sal (weer) nie teleurgesteld wees nie.

    "Maar miskien is ’n resensie tog nodig.

    "Want dalk is daar mense wat van speur-, misdaad- of spanningsverhale hou en Meyer nog nooit raakgelees het nie.

    " ... Meyer se realistiese uitbeelding van die Suid-Afrikaanse samelewing, wat op deeglike navorsing gegrond is, is juis een van die redes waarom sy romans veral plaaslik so gewild is.

    "Suid-Afrikaanse lesers kan hulle maar al te goed daarmee identifiseer en sal hulle baie beter in ’n Meyer-verhaal kan inleef as wat die geval dalk sal wees met byvoorbeeld Europese of Amerikaanse speurromans.

    "Meyer se 13 uur behoort ook weer die ou debatte rondom speurromans op te rakel.

    "Daar kan opnuut gevra word of speurromans nie ook as “hogere literatuur” beskou kan word nie omdat ander romanvorms kwalik die probleme van die samelewing meer realisties kan raakvat en weerspieël.

    "Hoewel Meyer jou nie vinnig genoeg kan laat lees nie en jou hart al hoe vinniger klop soos 13 uur vorder, kan sy romans beslis na ’n hoër kategorie as blote spanningsverhale of ontspanningslektuur opskuif. Want dit laat ’n mens veels te veel dink oor wat in jou land aangaan.

  • Corli van der Merwe in Volksblad:

    "Met 13 uur keer Meyer ... terug na ’n gunsteling-karakter van my – die nimlike Bennie Griessel. Die mees uitstaande aspek van Meyer se boeke was nog altyd sy karakterbou en -diepte.

    "Hy skep karakters waarvoor lesers werklik omgee, karakters met diepte, goeie kwaliteite en groot foute.

    "Sy karakters is eg en die beste van alles is dat hulle eg Suid-Afrikaans is.

    "Nóg beter, sy karakters is nie net Afrikaans en wit nie, en die speurders, skelms en publiek in Meyer se boeke verteenwoordig die deursnit- Suid-Afrikaner – of hulle nou wit, swart, gekleur, Xhosa, Zoeloe of Afrikaner is.

    "... Dié boek is Meyer op sy beste. Ek lees baie spanningsverhale en dié is beslis van die beste – 13 uur is meer as die lees werd!"

  • Suzaan Hauman op Litnet:

    " ... 13 uur bewys weer dat Meyer in 'n klas van sy eie is juis omdat die karakterisering so goed is: die dialoog en uitdrukkings, die denkpatrone en maniërismes, die blote menslikheid van Griessel-hulle boei enduit.

    "Deon Meyer se groeiende gewildheid wêreldwyd veroorsaak dat sy lesers teen hierdie tyd elke nuwe Meyer-skepping met hoër verwagtinge benader. Met 13 uur slaag hy weer daarin om dit te oortref. 'n Mens kan nie anders as om dit te geniet nie. En om uit te sien na (hopelik) volgende jaar dié tyd nie ..."

Die storie:

Om 05:36 hardloop die vrou teen die hang van Leeukop. Sy is jonk, beeldskoon, Amerikaans – en beangs. Sy word soos ʼn dier gejag deur mans wat net ure gelede haar beste vriendin se keel afgesny het.

13 Uur

Om 05:43 bel hulle vir speurder-inspekteur Bennie Griessel wakker. Hy moet kom, ʼn jong meisie se lyk lê langs St. Martini, die Lutherse kerk bo in Langstraat.

Die vorige aand nog het hy gedink dit gaan vir hom ʼn spesiale dag wees: Die begin van ʼn nuwe era in sy loopbaan, as mentor van ʼn groep jong swart en bruin speurders. En hy verwag nuus oor sy bevordering. ‘Kaptein Bennie Griessel’. Dit klink vir hom reg.

Behoort ʼn redelik normale dag te wees.

Tot sy jong span polisiemense begin stry, baklei, struikel. Met die kerkmoord. Met die middeljarige, alkoholis-vrou wat haar man, ʼn groot gees in die Afrikaanse musiekbedryf, twee keer met sy eie pistool deur die hart geblaas het. Met die soektog na die Amerikaanse toeris.

Terwyl die diplomatieke telefoonlyne vuurwarm gebel word en selfs die Minister begin druk toepas, sodat die hele mentor-ding soos mis voor die son verdwyn en Griessel self moet inklim om die gemors te probeer red.

Om nie eens te praat van sy persoonlike probleme nie. Sy bankrekening lyk sleg, hy stoei nog met die dranklus, sy vervreemde vrou Anna bel uit die bloute en sê vanaand is die aand wat hulle oor die toekoms moet gesels. Weet sy van die 26-jarige rekenaartegnikus met die aansienlike borste wat hy gisteraand, in ʼn oomblik van swakheid, op sy sitkamerbank deurgedraf het?

Boonop kondig sy vriend en kollega Mat Joubert aan dat hy die SAPS gaan verlaat, en dan bel sy seun Fritz met die nuus dat hy klaar is met skool, hy gaan kitaarspeler word in ʼn rock-groep met die naam van ‘Wet & Orde’.

En indelik, net wanneer hy op die punt staan om die Amerikaanse meisie te red, skiet hulle vir Bennie Griessel. Reg in die hart.

Redelik normale dag, jou tipiese 13 Uur van Suid-Afrikaanse wetstoepassing.


Só begin Hoofstuk 1:

Om 05:36 hardloop sy teen die steilte van Leeukop uit, die voeteval van haar sportskoene dringend op die gruis van die breë voetpad.

Op dié oomblik, wanneer die vroeë strale van die son haar soos ʼn soeklig teen die berg vind, is sy die toonbeeld van sorgelose grasie. Va13 Uurn agter gesien, wip haar donker vlegsel teen die klein rugsak, haar skouers is ‘n diep sonbruin teen die poeierblou van haar T-hemp. Daar is energie in die ritmiese tred van haar lang bene in die denim-kortbroek. Sy skep die indruk van atletiese jeugdigheid – lewenslustig, gesond, gefokus.

Tot sy skielik gaan staan en oor haar linkerskouer terugkyk. Dan verbrokkel die illusie, want daar is angs in haar gelaatstrekke. En uitputting.

Sy sien nie die indrukwekkende skoonheid van die stad in die sagte lig van die opkomende son nie. Haar oë soek wild en bang na beweging in die hoë fynbos agter haar. Sy weet hulle is daar, maar nie hoe naby nie. Haar asem jaag – van inspanning, skok en vrees. Dit is adrenalien, die verskriklike drang om te leef, wat haar dwing om weer te begin hardloop, om aan te hou, ondanks haar lam ledemate, die brand in haar bors, die tamheid van ʼn nag sonder slaap en die disoriëntasie van ʼn onbekende stad, ʼn vreemde land, ʼn ongenaakbare kontinent.

Voor haar vurk die paadjie. Haar instink dwing haar regs, hoër op, nader aan die Leeukop-rotskoepel. Sy dink nie, sy het nie ʼn strategie nie, sy hardloop blindelings, haar slanke arms is die stange van die masjien wat haar aandryf.