Storie agter die skrywer.

“Ek skryf omdat ek moet. Dit is soos ’n groot jeuk wat gekrap moet word, omdat idees en karakters torring om van nugter weet waar hulself te kom opdring om geskryf te word.”

- Deon Meyer

Litnet se biografiese skets:

Deon Meyer word op 4 Julie 1958 in die Paarl gebore. Toe hy 18 maande oud is, verhuis die gesin na Klerksdorp in die ou Wes-Transvaal. Hy begin sy skooljare aan die Laerskool Meiringspark en matrikuleer in 1976 aan die Hoërskool Schoonspruit. Deon is die middelste van drie seuns. In standerd 6 (deesdae se graad 8) moes hy sy twee broers Bertus en Francois afpers om sy eerste storie te lees. Hulle raad aan hom was dat hy nie dadelik met ’n nuwe boek moet begin nie.

Deon sal sy Engels-onderwyseres, Valerie de Bruyn, altyd onthou as iemand wat hom voortdurend aangemoedig het en met haar positiewe terugvoer oor sy opstelle ’n sekere selfvertroue vir skryf by hom gekweek het.

Deon beskou sy pa, Neil, as die wonderlikste storieverteller wat hy ken, en sy ma, Francis, as die beste resensent van sy pa se stories – sy het van almal gehou.

Verdere studies en werk

Deon MeyerNa skool is Deon na die Lugmag vir sy militêre diensplig. Hy gaan na die PU vir CHO en volg ’n BA-kursus met Engels en Geskiedenis as hoofvakke met die doel om hom as onderwyser te bekwaam. Na ’n jaar van onderwys hou aan minderbevoorregte matrieks as deel van ’n uitreikprogram om swart leerlinge met hulle studies te help, besef hy onderwys is nie vir hom bedoel nie. Gelukkig ontdek hy die wêreld van die joernalistiek.

In 1980 begin hy by Die Volksblad in Bloemfontein werk as joernalis. In 1983 volg hy sy joernalistieke mentor, Tom Ferreira, na die Universiteit van die Vrystaat se Skakelburo. Daar behaal hy sy Honneursgraad in Geskiedenis en driekwart van die vakke vir sy BIur-graad. In 1989 verlaat hy die Vrystaat en sluit hom by Sanlam in Kaapstad aan as reklame-kopieskrywer. In 1991 word hy aangestel as bestuurder van Interne Kommunikasie en skeppende direkteur van Sanlam se Reklame-afdeling. Deon is ook onder meer raadslid, president en later senator van die Suider-Afrikaanse Vereniging van Bedryfsredakteurs (SAVBR) en hoofbeoordelaar van SAVBR en UniTech se publikasiewedstryde.

Met die koms van die internet is hy deel van Sanlam se eerste tree in die kuberruim en ontvang hy en sy span verskeie internettoekennings, waaronder Business Day en die London Financial Times se pryse. Hy behartig ook ’n tegnologierubriek vir die tydskrif Insig.

Hy bring sy eie maatskappy op die been wat spesialiseer in die skep en bestuur van virtuele gemeenskappe op die internet voor hy as handelsmerk-konsultant vryskut begin werk het. Hy was ook bestuurder van spesiale projekte van BMW se motorfietsafdeling.

Sy fiksie-skryfwerk

Terwyl hy op universiteit is, skryf Deon soetsappige gedigte in Engels. Dit is eers in die negentigerjare dat hy ernstig begin skryf. In 1992 stuur hy ’n kortverhaal aan Huisgenoot, wat dit publiseer. Hy is so aangevuur dat hy onmiddellik nog een aan hulle stuur, wat afgekeur word. Dertien kortverhale verskyn later in Sarie en Huisgenoot; dit word later gebundel en in 1997 uitgegee deur Van der Walt onder die titel Bottervisse in die jêm.

In 1992 begin Deon ook werk aan sy eerste roman, met die titel Ikarus. Die uitgewers glo egter nie dat eenwoordtitels in Afrikaans sal werk nie en dit word gepubliseer onder die titel Wie met vuur speel. Deon voel oor die boek “soos ’n mens oor ’n broer in die tronk voel – jy is lief vir hom, maar jy praat nie eintlik oor hom nie”.

Hierdie boek plaas Deon op die toneel van die Afrikaanse letterkunde in ’n genre wat nog nie ontgin is nie, naamlik die spanningsverhaal. Feniks (1996), Orion (2000), Proteus (2002), Infanta (2005), Onsigbaar (2007) volg en in Oktober 2008 sien sy nuutste pennevrug, 13 Uur, die lig.

Pryse bly nie agter nie en die ATKV-Prosaprys word in 2001 aan Orion, in 2003 aan Proteus en in 2005 aan Infanta toegeken.

Buitelandse erkenning volg met die toekenning van Le Grand Prix du Littérature Policière in 2003 aan Jusqu’au dernier (Franse vertaling van Feniks) en die Prix Mystère de la Critique aan Les soldats de l’aube (Orion in Frans) in 2004. In 2006 word die Duitse Misdaadfiksie-prys aan Proteus toegeken. Orion, Infanta en Onsigbaar haal ook die kortlys vir die MNet-boekprys. Infanta was ook op die kortlys vir die Helgaardt Steyn-prys in 2004, en Onsigbaar het in Mei 2008 die kortlys van die W.A. Hofmeyr -toekenning (vir Afrikaanse letterkunde, ongeag genre) gehaal. Opsies vir die filmregte van Feniks, Orion en Proteus is verkoop.

Vertalings bly nie agterweë nie en Deon se boeke is in Engels, Frans, Duits, Nederlands, Italiaans, Spaans, Tsjeggies, Bulgaars, Noorweegs, Sweeds, Deens, Russies en Fins vertaal. In 2003 maak Deon ’n deurbraak in Amerika deurdat die uitgewersmaatskappy Little Brown die regte van Feniks, Orion en Proteus koop. Dit plaas Deon letterlik en figuurlik op dieselfde verhoog as wêreldbekende spanningsverhaalskrywers soos Michael Connelly, Ian Rankin en David Morrell. In Oktober 2004 neem hy saam met dié drie skrywers in Kanada aan ’n beraad vir misdaadskrywers deel as spreker.

Ook in 2004 word die Engelse vertaling van Proteus, getitel The heart of the hunter, deur die Chicago Tribune aangewys as een van die tien beste spanningsromans in Amerika. Dit is ook die goeie verkope van sy boeke in die buiteland in ander tale wat hom finansieel in staat stel om van 2008 af heeltyds te begin skryf, wat goeie nuus is vir al sy aanhangers, want hy sê self: “Noudat ek heeltyds kan skryf, gaan ek mik na een boek per jaar.”

Hy skryf die draaiboeke vir die TV-reekse 'Orion' en 'Transito'. Orion, met Neil Sandilands en Erica Wessels in die hoofrolle en Gerrit Schoonhoven as regisseur, word in 2006 op kykNet en MNet gebeeldsend en is ’n baie groot sukses. Vir die reeks is Deon met ’n ATKV-Veertjie bekroon in die narratiewe genre vir die draaiboek van die reeks en word Schoonhoven aangewys as die beste regisseur en die reeks as die beste Afrikaanse dramareeks.

Ander aktiwiteite

Uit vrees dat hy "deur my eie boeke verveel sal word”, skryf Deon hom in 2003 in vir ‘n meestersgraad in Kreatiewe Skryfwerk onder Marlene van Niekerk aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy deel graag sy ondervinding met ander skrywers deur deel te neem aan slypskole soos die een oor die skryf van spanningsverhale wat in 2004 deur die ATKV aangebied is. In 2003 ontvang Deon die PUK-Alumni-oorkonde en in 2007 die Kovsie-Alumni Cum Laude-toekenning vir sy besonderse prestasies op plaaslike, nasionale en internasionale vlak.

Deon is ’n gereelde en baie gewilde deelnemer aan Kunstefeeste se Boekeprogramme en in 2006 deel hy die verhoog met Michael Connelly tydens die Volksblad Kunstefees in Bloemfontein.

Hy hou hom ook besig met die skryf van draaiboeke vir televisie en is so pas klaar met Transito, ’n nuwe spanningsreeks, waarvan die verfilming in Kaapstad begin het. Die skryf van draaiboeke leer hom om daardie kenmerkende supersnel aksietonele van hom, en dialoog wat knetter soos geweervuur, te skryf.

Hy woon tans in Melkbosstrand net buite Kaapstad (en soms in Loxton in die Bo-Karoo) saam met sy vrou Anita en hulle vier kinders – twee elk uit hulle vorige huwelike. Sy ander groot liefdes is BMW-motorfietse, lees, kosmaak en die Springbok- Vrystaat Cheetahs-rugbyspanne.

(Met erkenning aan Litnet.)

(Foto bo: ALL RIGHTS RESERVED. © Philippe MATSAS / OPALE. OPALE Agency, 8, rue Charlot, F-75003 Paris. Europe tél: + 33 1 4029 9333, web-site: www.agence-opale.com)